5. Ons identiteit in Jesus

Ons kyk baie kere na mense en die dinge wat hulle doen en dan besluit ons hoe hulle is. Jy kyk dalk na die ou wat baie gym en ek besluit dat hy bietjie dom is. Jy  kyk dalk na die meisie wat hokkie speel en besluit dat sy aggressief is. Wanneer ons dan oor mense begin praat, volgens die prentjie in ons koppe, begin ons ook om ander mense se persepsies te beïnvloed. Wanneer ons ander dan volgens ons persepsies behandel, kan ons hulle beïnvloed om dit te glo dat hulle wel is wie ons dink hulle is. Jesus doen dieselfde met ons, maar altyd in ‘n positiewe manier; hy praat en behandel ons op ‘n nuwe manier wat ons identiteit vorm. Sy oortuiging is egter nie beïnvloed deur wat ons doen nie, maar beïnvloed deur die waarheid dat God ons geskep het, ons liefhet en geroep het.

Luister: Lukas 19:1-10

Jesus en Saggeus

1Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. 2Daar was ‘n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, ‘n ryk man. 3Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. 4Hy hardloop toe vooruit en klim in ‘n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. 5Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”

6Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang. 7Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by ‘n sondige man tuis!”

8Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” 9Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham. 10Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is. ”

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Wie was Saggeus volgens die mense?
  • Wat dink jy het Saggeus oor homself gedink?
  • Volgens Jesus, wie was Saggeus?
  • Watter effek het die manier waarop Jesus na Saggeus gekyk het op Saggeus se lewe gehad?
  • Op watter maniere kan jy jouself in Saggeus se skoene inleef?
  • Hoe beïnvloed hierdie verhaal die manier waarop jy na ander kyk?

Doen:

  • Elke keer wanneer jy vandag in ’n spieël kyk, sê vir jouself: “Ek is ’n kind van God. Ek is ’n vry mens.”

Bid:

  • Lees die teks weer stadig deur. Vra die Heilige Gees om ’n woord of ’n prentjie in jou gedagtes te laat opkom wat jou sal help om jouself te sien soos Hy jou sien, maar ook om ander mense te sien soos Hy hulle sien. 

Tiener fokus:

  • Skryf jou naam van bo na onder op ’n skoon bladsy. Kry by elke letter van jou naam ’n woord wat een van jou beste eienskappe beskryf. Plak dit in jou kasdeur of enige plek waar jy dit gereeld sal raaksien om jou te herinner aan hoe God jou ook sien.
  • Dink aan iemand wat jy gewoonlik beoordeel omdat hy/sy anders is. Besluit om wanneer jy daardie persoon weer sien, hom/haar vriendelik te groet.

Familie fokus:

  • Laat druk ’n foto van elkeen in jul familie. Laat almal in julle huis die mooiste of beste eienskap van die een op die foto agterop neerskryf, saam met ’n een-sin-gebed.
  • Soek ‘n boom wat net reg is vir boomklim. Hoeveel uit jul familie kan in die boom klim? Gesels daarna oor hoekom Saggeus in ‘n boom geklim het.