1. Genade

Genade is ‘n onverwagse geskenk van God wat ons nie kan koop, bewerkstellig of verdien nie. Ons glo in ‘n genadige God wat ons met onvoorwaardelike liefde aanvaar as God se kinders. Ons bely dat God in genade deur Jesus Christus vir ons verlossing skenk en lei deur die Gees. Hierdie genade maak ons vry van sonde en skuld. Dit maak nie saak wie jy is, waar jy vandaan kom, wat jou verlede of omstandighede is nie – God se genade is vir elkeen bedoel. Omdat ons weet dat ons vry van skuld en sonde is, leef ons dan nou ook vanuit God se genade. Ons aanvaar ander sonder oordeel en omarm hulle met Jesus se onvoorwaardelike liefde.


Delf Dieper: Slegs genade

— PIETER VAN DER WALT

Lees meer:


Luister: Lukas 15:11-32

Die gelykenis van die verlore seun

11Verder het Jesus gesê: “Daar was ‘n man wat twee seuns gehad het. 12Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom.’ Hy het toe die goed tussen hulle verdeel.

13“Nie lank daarna nie het die jongste seun alles tot geld gemaak en van die ouerhuis af na ‘n ver land toe vertrek. Daar het hy sy geld verkwis deur losbandig te lewe. 14Nadat hy alles deurgebring het, het daar ‘n kwaai hongersnood in daardie land gekom, en ook hy het begin gebrek ly. 15Hy het toe sommer by een van die mense van daardie land gaan bly, en dié het hom na sy plaas toe gestuur om varke op te pas. 16Daar het hy gewens hy kon sy honger stil met die peule wat die varke eet, maar niemand het hom daarvan gegee nie.

17“Toe kom hy tot inkeer en sê: ‘My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger. 18Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig! 19Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners.’ 20En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan.“Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom. 21Toe sê die seun vir hom: ‘Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie.’ 22Maar sy pa roep sy werksmense: ‘Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom ‘n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan! 23En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier! 24Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.’ Toe het hulle begin feesvier.

25“Sy oudste seun was nog in die veld. Toe hy terugkom en naby die huis was, hoor hy die musiek en die singery. 26Hy roep toe een van die bediendes nader en vra hom wat aan die gang is. 27Die bediende antwoord: ‘U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.’

28“Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom; 29maar hy antwoord: ‘Kyk, al die jare werk ek soos ‘n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek ‘n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers ‘n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie. 30Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!’

31“Toe sê die pa vir hom: ‘Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune. 32Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.’ ”

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Met wie vereenselwig jy jouself die meeste in die teks; met die pa, seun of broer en hoekom?
  • Kan jy aan ‘n geleentheid dink toe jy op dieselfde manier omarm is soos wat die pa die seun aanvaar het?
  • Watter dinge maak dit vir jou moeilik om God se oorvloedige genade deel te maak van jou lewe?
  • Kan jy aan ‘n geleentheid dink waar jy uitgedaag word om God se genade te deel?

Doen:

  • Bel iemand in jou familie of vriendekring met wie jy lanklaas gepraat het en stel opreg in hulle belang.

Bid:

  • Skryf ‘n brief aan God waarin jy terug dink oor jou lewe en dankie sê vir God se genade en liefde. 

Tiener-fokus:

  • Google die woorde “grace” vir aanhalings of Instagram tekste en deel dit op jou sosiale netwerk.

Familie-fokus:

  • Speel ‘n bordspeletjie of ‘n sport spel waarvan almal in die gesin hou soos Uno of tennis. Maak julle eie nuwe (genadige) reëls daarvoor op sodat almal dit ewe veel geniet!

2. Doop

Die doop is nie ‘n teken van ons eie geloof in die eerste plek nie, maar eerder ‘n teken van God se ewige belofte aan ons. Dit word ook die verbondsdoop genoem, omdat dit ‘n teken is van God se verbond (belofte) aan ons.  Die verbond is ‘n belofte wat God aan Abraham duisende jare gelede gemaak het dat God belowe het om Abraham en sy nageslag se God te wees. Vandag vier ons die genade dat ons ook hierdie belofte van God af ontvang, want deur Jesus is ons elkeen ook nou deel van God se verbondsfamilie. Die doop is nie iets wat ons verdien nie, maar ‘n viering van die geskenk wat ons van God af kry.


Delf Dieper: Doop

— Tinus van Zyl

Lees meer:


Luister: Genesis 17:3-8

Die besnydenis as verbondsteken

3Abram het op sy knieë geval, en toe sê God vir hom:
4“Dit is my verbond met jou:
jy sal die vader wees van ‘n menigte nasies;
5jy sal nie meer Abram genoem word nie,
jou naam sal Abraham wees,
want Ek maak jou die vader van baie nasies.
6Ek sal jou baie vrugbaar maak,
Ek sal jou tot nasies maak,
en konings sal uit jou voortkom.

7“Ek bring ‘n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ‘n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. 8Ek gee aan jou en jou nageslag die land waar jy as vreemdeling woon, die hele Kanaän, as ‘n blywende besitting, en Ek sal hulle God wees.” 

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Wat beteken dit vir jou dat jy gedoop is?
  • Watter verskil maak dit vir jou dat ons God se genade in die doop vier en nie ons geloof nie?
  • Hoekom verander God Abram se naam? Watter verandering vind plaas wanneer mense God se beloftes vier?
  • Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag.” Wat beteken hierdie woorde vir jou? 

Doen:

  • Let op as jy water sien/gebruik/drink en dink dan elke keer aan die boodskap van jou doop: dat God ook ‘n belofte an jou gemaak het om vir altyd jou God te wees.

Bid:

  • Maak met water ‘n kruisie op jou hand en sê vir God dankie dat daar ook ‘n ewige belofte tussen jou en God is.

Tiener-fokus:

  • Vra jou ouers wat jou doopdatum is. Wanneer daardie dag kom, nooi jou vriende oor vir ‘n partytjie en vier jou doop.

Familie-fokus:

  • Vind uit wanneer elkeen in die gesin se doopdatum is. Stoor dit op julle fone se kalenders en vier elke jaar op daardie dae ‘n “doop-verjaarsdag” saam met daardie gesinslid om hulle te herinner dat hulle God se kind is.
  • Vul ‘n bakkie met water en sit dit op julle etenstafel. Voor julle saam eet, gebruik ‘n oomblik om jul doop te vier. Julle kan byvoorbeeld elkeen ‘n vinger in die water doop en dan hardop bid: “Dankie Jesus dat ek gedoop is. Dankie dat U vir my lief is en altyd by my is.”

3. Belydenis van geloof

Daar is oomblikke in ons lewe wat so spesiaal is dat ons moeite wil doen om dit te onthou en te vier. Een van daardie oomblikke is wanneer ons besef dat God ons oneindig lief het en ons dan kies om daardie liefde te aanvaar en ‘n navolger van Christus te word. Belydenis van geloof is ‘n teken wat ons help om daardie baie spesiale oomblik te merk, te onthou en te vier – ‘n roetemerker op ons geloofspad. Ons plaas roetemerkers op ‘n pad wanneer iets belangrik daar gebeur of wanneer ons nie ‘n plek wil vergeet nie. Om belydenis van geloof af te lê, is ‘n geleentheid vir ons om tussen ander gelowiges wat vir ons omgee te antwoord op ons doop. Die doop is ‘n teken daarvan dat God ons gekies het – selfs voor ons dit kon verstaan.  God het belowe dat God vir die res van ons lewens by ons sal wees, vir ons sal lief wees en ons vergewe – maak nie saak wat ons doen of wat gebeur nie. Wanneer ons dan ons geloof bely, sê ons daarmee dat ons daardie liefde en sorg van God aanvaar. Ons kies gevolglik: 1) om ons lewens te leef met die wete dat God by ons is, en 2) om God se leiding in ons lewens te volg.

Luister: Josua 4: 1-24

Josua en klippe pak

1 Nadat die hele nasie deur die Jordaan is, het die Here vir Josua gesê: 2 “Neem nou die twaalf man uit die volk, een uit elke stam,3 en sê vir hulle: Vat hier uit die Jordaan, op die plek waar die priesters gestaan het, twaalf klippe en neem hulle saam met julle deur en sit hulle neer op die plek waar julle vannag oorbly.”

4 Josua roep toe die twaalf man wat hy uit die Israeliete aangewys het, een uit elke stam,5  en hy sê vir hulle: “Gaan by die ark van die Here julle God verby tot in die middel van die Jordaan en tel elkeen ‘n klip op die skouer, in ooreenstemming met die getal stamme van die Israeliete.6 Dit moet onder julle as ‘n teken dien. Wanneer julle kinders julle eendag vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir u?’ 7moet julle vir hulle sê die Jordaan se water is voor die verbondsark van die Here afgesny; toe die ark deur die Jordaan moes gaan, is die rivier se water afgesny; daarom is hierdie klippe vir die Israeliete ‘n blywende herinnering daaraan.”

 8 Die Israeliete het gemaak soos Josua gesê het. Hulle het die twaalf klippe in ooreenstemming met die getal stamme van Israel gevat soos die Here vir Josua gesê het, dit met hulle saam deurgeneem na die plek toe waar hulle sou oornag en dit daar neergesit. 9  Josua het ook twaalf klippe binne-in die Jordaan opgerig, op die plek waar die priesters gestaan het wat die verbondsark gedra het. Die klippe is vandag nog daar. 10 Die priesters wat die verbondsark gedra het, het in die Jordaan bly staan tot alles afgehandel was wat die Here vir Josua opgedra het om vir die volk te sê in ooreenstemming met alles wat Moses vir Josua beveel het. Die volk was haastig om deur te gaan.11  

Toe die volk klaar deur is, het die ark van die Here deurgegaan. Die priesters was voor die volk. 12 Die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam het, soos Moses hulle beveel het, in formasie voor die Israeliete getrek. 13 Omtrent veertig duisend gewapende manne het vir die oorlog die rivier deurgegaan voor die ark van die Here uit na die Jerigovlakte toe. 14 Die Here het daardie dag aan Josua hoë aansien gegee in die oë van die hele Israel. Hulle het sy lewe lank aan hom eerbied betoon soos aan Moses.

15Die Here het vir Josua gesê: 16 “Sê vir die priesters wat die ark met die getuienis dra, hulle moet uit die Jordaan kom.” 17 Josua het toe die priesters beveel om uit die Jordaan te kom,18 en toe die priesters wat die verbondsark van die Here dra, uit die Jordaan kom en hulle voetsole die grond aan die kant raak, het die rivier se waters weer op hulle ou plek begin loop. Soos tevore het hy weer al sy oewers oorstroom. 19Die volk het op die tiende dag van die eerste maand uit die Jordaan gekom en kamp opgeslaan in Gilgal, oos van Jerigo. 20 Josua het die twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan saamgebring het, in Gilgal opgestel. 21 en vir die Israeliete gesê: “As julle kinders eendag hulle pa’s vra: ‘Wat beteken daardie klippe?’ 22 moet julle die kinders inlig en sê: Israel het op droë grond deur hierdie Jordaanrivier gegaan. 23 Die Here julle God het die Jordaan se water voor julle laat opdroog sodat julle kon deurgaan, net soos Hy met die Rietsee gemaak het toe Hy dit voor ons laat opdroog het sodat ons kon deurgaan. 24 Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kan besef dat die mag van die Here groot is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien.

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Wat sê die teks vir jou oor God? Wat sê dit oor mense/jouself?
  • Hoekom dink jy wou God hê die Israeliete moet klippe uit die Jordaan optel en neersit waar hulle oornag?
  • Noem oomblikke uit jou verlede wat jy dink God sou wou hê jy moet merk?
  • As jou kinders eendag vir jou vra wat het jou belydenis van geloof vir jou beteken, wat sal jy antwoord?

Doen:

  • Tel ‘n klip op en sit dit iewers buite of selfs in jou huis/kamer waar jy dit gereeld kan sien. Onthou elke keer as jy daarby verby stap, dat God by jou is net soos wat God saam met die Israeliete was. Jy kan elke keer ‘n klip bysit wanneer jy ‘n spesiale ervaring van God se teenwoordigheid/sorg gehad het en dit wil onthou.

Bid:

  • Maak ‘n lys van ‘n paar oomblikke in jou lewe waar jy ‘n spesiale ervaring van God gehad het en gesels met die Here daaroor.

Tiener-fokus:

  • Teken ‘n tydlyn van die hoofstukke van jou lewe. Vul die hoogtepunte en laagtepunte in. Watter spesiale oomblikke wat jy wil onthou en vier? Hoekom was hierdie oomblikke spesiaal in jou lewe? Hoe was God teenwoordig in al die verskillende hoofstukke?
  • Vra iemand in jou familie of iemand wat jy ken wat reeds belydenis van geloof afgelê het, om te vertel van hul ervaring en wat dit vir hulle beteken het. 

Familie-fokus:

  • Speel die toneel van die Israeliete wat deur die Jordaan gaan uit deur by/deur water te loop (‘n stroompie, dam of swembad) en dan ‘n stapel klippe te pak. Vertel weer die verhaal van Josua 4 en gesels oor God se getrouheid.

4. Nagmaal

Soveel van die spesiale oomblikke in die lewe gebeur rondom tafels. Dis waar ons gesels, eet, kuier, werk en soms selfs speel. Dis ook die plek waarheen ons elke keer weer terugkom. Na ‘n lang dag by die skool of werk, of nadat ons heel middag lekker gespeel het, kom sit ons aan by die tafel. Jesus het geweet dat om saam om te eet deel is van ons bestaan. Hy het een van die mees alledaagse gebeurtenisse in ons lewe gebruik om ons vir ewig te herinner aan wie Hy is. Die Nagmaal herinner ons ook dat ons sy navolgers is en wat ware gemeenskap is.

Die Nagmaal is ‘n fisiese teken wat ons herinner aan God se ewigdurende, onvoorwaardelike liefde vir ons. Wanneer ons die brood eet en wyn/sap drink, herinner dit ons dat Christus sy liggaam (brood) en sy bloed (wyn/sap) gegee het sodat ALMAL vergewe kan word en ALMAL mag deel in sy liefde.  Dis ‘n geleentheid waar ons vir ‘n oomblik nadink oor sy lyding, maar dit is ook ‘n fees wat ons vier saam met ander, juis sodat ons kan onthou dat Jesus ons almal liefhet en dat ons mekaar ook só moet liefhê.


Delf Dieper: Die Nagmaal

— Angelique Havenga

Lees meer:


Luister: Matteus 26: 26-30

Die instelling van die Nagmaal

26 En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.”

27 Toe neem Hy ‘n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit,28 want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.

29 Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.” 

30 Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Dink aan een of meer spesiale maaltye in jou lewe. Hoekom het die herinnering jou bygebly?
  • Wat is die emosie wat hierdie teks by jou na vore bring. Hoekom?
  • Verbeel jouself jy was by toe Jesus die Nagmaal ingestel het. Hoe lyk dit? Hoe voel dit om daar te wees? Watter vraag sou jy vir Jesus wil vra op daardie oomblik?
  • Hoe sal jy die Nagmaal verduidelik aan iemand wat dit vir die eerste keer gaan gebruik?
  • Dink aan 5 verskillende woorde wat Nagmaal beskryf.

Doen:

  • Reël ‘n ete afspraak met iemand wat jy lanklaas gesien het of iemand wat jy voel dit nodig het.

Bid:

  • Gaan sit iewers rustig met iets om te eet en te drink en terwyl jy dit doen, dink aan wat die Nagmaal vir jou beteken. Praat met God daaroor. Dalk wil jy dankie sê, of dalk wil jy vergifnis vra.

Tiener-fokus:

  • Vind uit wanneer julle volgende Nagmaal-Sondag by die gemeente is. Hoe kan jy daar dien? Bv. help met die brood sny, die tekens uitdeel, opwas na die tyd ens.
  • Maak met ‘n groep vriende toebroodjies om te gaan uitdeel vir mense wat honger is. Probeer sommer om saam met die mense vir wie julle dit gee te eet as ‘n teken daarvan dat ons ander moet liefhê soos wat Jesus ons liefhet. 

Familie-fokus:

  • Bak brood saam as familie. Terwyl julle die brood bak gesels oor julle eerste Nagmaal ervaring of wat die Nagmaal beteken.

5. Gawes

Gawes is geskenke van God wat deur die Gees aan gelowiges gegee word om hulle toe te rus om mekaar te dien en ‘n verskil te maak in die wêreld. Hierdie gawes kan talente of natuurlike eienskappe insluit of sterkpunte wees wat oor tyd ontwikkel. Jou voorkeure en ervarings kan ook jou gawes vorm. Sommige gawes lyk in vandag se tyd meer alledaags soos gasvryheid of diensbaarheid en ander voel vir ons meer besonders of uitsonderlik soos profesie en praat in tale. Maar elke gawe is ewe belangrik en geen gawe kan uit eie verdienste verkry word nie.

Die gebeure in die boek Korintiërs wys vir ons op die gevare van die misbruik van gawes soos wanneer ons dit ‘n teken wil maak van mense se “geesvervuldheid” of as die gebruik daarvan verdeeldheid bring. Maar die teks herinner ons ook aan die krag van gawes, wanneer ons dit in liefde gebruik om mekaar te bemoedig en te versterk. Die maklikste manier om jou gawes te “ontdek” is om eenvoudig diensbaar te raak!


Delf Dieper — Sola Gratia: Gawes

— Helgard Pretorius

Lees meer:


Luister: Rigters 4: 1-10

Debora

1Na Ehud se dood het die Israeliete weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. 2Die Here het hulle oorgegee in die mag van koning Jabin van Kanaän wat in Hasor geregeer het. Sisera uit Garoset-Gojim was die hoof van Jabin se weermag.

3Hy het nege honderd ysterstrydwaens gehad en hy het die Israeliete twintig jaar lank verdruk.

Daarom het hulle tot die Here geroep om hulp. 4In daardie tyd was Debora, die vrou van Lappidot, die leier van die Israeliete. Sy was ‘n profetes. 5Sy het altyd onder die Deborapalm in die Efraimsberge tussen Rama en Bet-El gesit, en die Israeliete het daarheen gekom sodat sy hulle geskille kon bylê. 6Sy het vir Barak seun van Abinoam uit Kedes in Naftali laat roep en vir hom gesê: “Die Here die God van Israel beveel jou: Trek met tien duisend man uit Naftali en Sebulon op na Taborberg toe.7Ek sal vir Sisera, die hoof van Jabin se leër, met sy strydwaens en sy leër na jou toe laat optrek tot by Kisonspruit en Ek sal hulle in jou mag oorgee.”

 8Barak het haar geantwoord: “As u saamgaan, sal ek optrek, maar as u nie saamgaan nie, gaan ek nie.” 9Sy het vir hom gesê: “Goed, ek sal saamgaan, maar jy sal nie die eer vir die veldtog kry nie: die Here sal vir Sisera aan ‘n vrou uitlewer.” Toe het Debora klaargemaak en saam met Barak na Kedes toe gegaan.10Barak het vir Sebulon en Naftali daarheen ontbied. Tien duisend man het vir Barak gevolg, en Debora het saam met hom opgetrek. 

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Dit is uitsonderlik om ‘n vroue leier (rigter), profetes en bevelvoerder van Israel te ontmoet. Wat sê haar verhaal vir jou?
  • Watter gawes het Debora? Kan jy aan iemand dink wat ook hierdie gawes het?
  • Dink jy ‘n mens kan verskillende gawes in verskillende omstandighede hê?
  • Vertel van ‘n geleentheid waar jy iemand bemoedig het of met wysheid bedien het.

Doen:

  • Oefen om na mekaar te luister. Laat iemand vir jou vertel van ‘n uitdaging wat hulle tans beleef. Probeer om empaties te luister, die woorde te eggo, en daaroor te reflekteer sonder om antwoorde te gee. Ruil om. Deel dan met mekaar hoe jy die oefening beleef het.

Bid:

  • Skryf al die mense neer wat soms na jou toe kom om te gesels oor hul uitdagings, geskille en vrae. Vra God om jou wysheid te gee oor wanneer en hoe om raad te gee. Skryf ook al die mense neer na wie jy toe gaan vir wysheid. Bid vir elkeen op hul naam.

Tiener-fokus:

  • Kyk of jy ‘n reuse lang lys van gawes kan maak. Gebruik tekste soos 1 Korintiërs 12:1-11, Romeine 12:4-8, Efesiërs 4:11-13, 1 Petrus 4:8-11, Eksodus 28:1-3,11 en Eksodus 31:1-6. Dink ook aan mense in die Bybel en watter van hulle eienskappe God gebruik het. Kyk of jy meer as 50 gawes op jou lys kan kry. Vra vir iemand om die gawes op jou lys te omkring wat hul tans in jou lewe raaksien. 

Familie-fokus:

  • Maak ‘n palmboom uit karton vir elkeen in die gesin. Skryf elkeen se naam op die stam en dink saam oor elke lid se talente, gawes en eienskappe en skryf dit op die blare. Dit kan oor tyd aangevul word. Sê vir God dankie dat elkeen uniek en spesiaal is.