1. Geloof

Geloof is die een ding wat ons nodig het om te leef in ’n verhouding met Jesus Christus. Baie mense weet van Jesus en bewonder Hom selfs, maar die vraag is of jy in Hom glo? Om te glo beteken nie jy is hierdie wonder-Christen wat al die antwoorde op die lewe se moeilike vra het nie. Geloof is nie iets wat jy bereik nie. Dit beteken ook nie vroomheid nie. Dit is ’n geskenk van die Heilige Gees wat jou instaat stel om op reis te wees met God en God op God se Woord te neem. Dit is die vermoë om deur die lewe se op- en af-tye vas te hou aan die wete dat God jou God se geliefde kind noem en jou nooit in die steek sal laat nie.

Geloof los nie ons probleme op nie, maar ons geloof in God se trou help ons om ons probleme met meer kalmte te hanteer sodat ons daardeur kan groei.

Luister: Markus 1:16-20

Jesus roep sy eerste dissipels

16Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. 17Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” 18Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg. 19Toe Hy ‘n entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak, 20en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan.

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Verbeel jou jy is ‘n dissipel in die verhaal wat besig is met jou dagtaak en Jesus kom verby en sê vir jou: “Kom hier”. Waaraan sou jy dink? Wat sou jy doen? Hoe sal jy voel?
  • Wat beteken dit vir jou dat jy deur Jesus geroep is?
  • Wat behels dit in vandag se tyd om Jesus te volg?
  • Kan jy dink aan ‘n geleentheid waar jy uitgedaag is om iets wat vir jou belangrik is agter te los vir jou geloof?

Doen:

  • Vra iemand vandag uit oor waar hulle geloofspad met die Here begin het.

Bid:

  • Here, ek wil U ook graag onvoorwaardelik volg. Help my om te glo, want daar is dikwels ander dinge in my lewe wat vir my moeilik maak soos…

Tiener-fokus:

  • Maak ‘n lysie van goed waarvoor jy die Here blindelings wil vertrou. Vou dit klein op en steek dit êrens ver weg as ‘n simbool van jou oorgee aan die Here. Dit kan ook as teken dien dat jy glo dat God op God se tyd en God se manier vir jou sal antwoord.

Familie-fokus:

  • Skryf as familie ‘n geloofsbelydenis waarin julle in jul eie woorde skryf wat julle glo. Gebruik die volgende onderwerpe en skryf ‘n sin of twee by elkeen: Jesus, God, Heilige Gees, Kerk, Bybel, wie ons is en wat ons doen.
  • Kyk saam en bespreek die videogreep “Ek glo – Die Apostoliese geloofsbelydenis”

2. Kerk

Baie mense dink onmiddellik aan ‘n kerkgebou wanneer hulle die woord kerk hoor. Of hulle dink aan ‘n erediens. Ons sê mos altyd: “Ons gaan kerk toe”, bedoelende ons gaan die erediens bywoon. Ander dink weer dalk net aan hulle eie gemeente en haar werksaamhede as hulle die woord kerk hoor. Dit is alles gestaltes van die kerk, maar die woord kerk impliseer baie meer as ‘n struktuur waarbinne mense ‘n klompie reëls moet volg. Met kerk word bedoel ‘n groepering mense wat besef dat ménse God se plan was om God se koninkryk sigbaar te maak in hierdie wêreld. Waar mense dus bymekaar kom om te bid, mekaar te leer, saam om ‘n tafel eet – daar is die kerk bymekaar. Jou gemeente is natuurlik kerk, maar jy is ook die kerk daar waar jy jou getuienis uitleef by die skool of werk of by die huis met kinders. Kerk impliseer ook gemeenskap. Paul Tournier sê juis: “There are two things we cannot do alone – one is to be married and the other is to be a Christian.” Kerk is daar waar jy saam met ander mense jou oë na die bron van die Kerk draai, nl. Jesus Christus.


Delf Dieper: Kerk

— Piet Naudé

Lees meer:


Luister: Handelinge 2:43-47

Die eerste gemeente

42Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. 43Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Dink jou bietjie in hoe die byeenkoms gelyk het van die eerste gemeente soos ons daarvan lees in Handelinge. Wat verras jou?
  • Met watter aktiwiteite het hierdie eerste gemeente hulle besig gehou? Hoe lyk dit anders as wanneer jou gemeente vandag bymekaar kom? Hoe lyk dit soortgelyk?
  • Vertel van ‘n keer toe jy by mense saam om ‘n tafel gesit en eet het en spontaan oor die Here gesels het.
  • Wat kan jy as die kerk doen om jou gemeente te help om meer gasvry, biddend en diensbaar te wees? 

Doen:

  • Vandag kan jy dalk iets weggee vir iemand wat dit meer nodig het as jy – op hierdie manier is jy kerk.

Bid:

  • Here, ek weet die kerk is U plan om die wêreld ‘n beter plek te maak. Help my om ook my rol as kerk op te neem deur….

Tiener-fokus:

  • Kry nog ‘n maat of twee en vra die dominee by jou gemeente of julle nie Sondag die verwelkoming by die deure kan doen nie? 

Familie-fokus:

  • Nooi nog ‘n familie na julle huis toe. Dek ‘n mooi, eenvoudige tafel en julle kan lekker broodjies eet en water drink. Terwyl julle aan tafel is, gee elkeen aan die tafel die geleentheid om iets te vertel van hulle belewenis van God in die afgelope week. Gee die oudste persoon aan die tafel die geleentheid om vir julle ‘n gedeelte uit die Bybel te lees. Elkeen om die tafel kry geleentheid om een dankie-sê sinnetjie te bid.

3. Gebed

Gebed is ‘n belangrike deel van ons geloof omdat ons glo dat die Here ‘n God is wat in ‘n verhoudings met ons is. Gebed is die manier waarop ons met God kommunikeer. God tree in verhouding met die skepping en met elke persoon om God se liefde uit te deel. Ons bid omdat die Here nie afwesig is nie, maar teenwoordig is, en boonop dat God met ons elkeen handel nes ons is. Deur te bid, erken ons dat ons heeltemal afhanklik van die Here in ons daaglikse lewens is. As ons bid, vra ons nie net vir wat ons wil hê nie, maar ons bid ook dat die Here se Naam geheilig word en dat die Here se koninkryk sal kom. Ons vra ook dat God se wil (en nie ons wil nie), sal geskied in die hier en nou. Gebed is ook ‘n manier om sonde te bely, God te prys en vir ander mense in te tree.

Luister: Handelinge 16:16–40

In die tronk in Filippi

16Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ons ’n slavin teëgekom in wie daar ’n waarsêersgees was. Deur waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld verdien. 17Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word.”

18Sy het dit baie dae na mekaar gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!”

Die gees het op daardie selfde oomblik uit haar uitgegaan.

19Toe haar eienaars sien dat sy nie meer geld vir hulle kan inbring nie, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die owerheid toe op die stadsplein gesleep. 20Hulle het hulle voor die stadsbestuur gebring en gesê: “Hierdie mense is Jode wat moeilikheid maak in ons stad. 21Hulle wil vir ons gebruike leer wat ons as Romeine nie kan aanvaar of navolg nie.”

22Die skare het ook teen hulle gekant geraak. Die stadsbestuur het toe hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle lyfstraf moet kry. 23Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. 24Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem.

25Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. 26Skielik kom daar ’n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak. 27Die bewaarder het wakker geskrik, en toe hy die deure van die tronk sien oopstaan, het hy sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring, want hy het gedink die gevangenes het ontsnap. 28Maar Paulus het baie hard vir hom geskreeu: “Moenie jouself doodmaak nie! Ons is nog almal hier.”

29Toe het die bewaarder ’n lig gevra, die sel ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. 30Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?”

31Hulle antwoord hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

32Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig. 33Op daardie uur van die nag het hy vir Paulus en Silas geneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop. 34Toe bring hy hulle na sy huis toe en sit vir hulle ’n ete voor. Hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het.

35Die volgende môre het die stadsbestuur polisie gestuur met die boodskap: “Laat daardie mense los.”

36Die bewaarder het toe die boodskap aan Paulus oorgedra en gesê: “Die stadsbestuur het laat weet dat julle losgelaat moet word. Julle kan nou gaan, en voorspoed op julle reis!”

37Maar Paulus sê vir die polisie: “Ons is sonder verhoor in die openbaar geslaan en in die tronk gestop, ons wat Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons stilletjies hier wegkry. O nee! Laat hulle self kom en ons uitlei.”

38Die polisie het dit toe vir die stadsbestuur gaan vertel. Dié het groot geskrik toe hulle hoor dit is Romeinse burgers. 39Hulle het gegaan en om verskoning gevra, hulle uit die tronk uitgelei en hulle versoek om die stad te verlaat.

40Nadat hulle uit die tronk gekom het, is hulle na Lidia se huis toe, waar hulle die gelowiges gesien en bemoedig het. Daarna het Paulus-hulle vertrek.

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Hoekom het Paulus en Silas God geprys in hulle omstandighede?
  • Hoe sou jy voel as jy, soos Paulus en Silas, in die tronk toegesluit was bloot omdat jy iemand gehelp het? Sou jy God geprys het?
  • Kan ons God se wil verander deur te bid?
  • Wat is die doel van gebed?
  • Hoe moet ons bid, al gaan dit hoe sleg of hoe goed?

Doen:

  • Maak ’n gebedslysie wat net uit dankgebede bestaan. Gebruik dit as ’n riglyn vir jou volgende week of twee se gebede.
  • Neem die koerant en bid deur die hooftrekke daarvan.

Bid:

  • Dankie Here dat U vir my wys U is…
  • Ek bid dat U wil sal geskied in…

Tiener-fokus:

  • Stel ‘n alarm op jou foon vir ‘n paar tye in die loop van die dag en probeer om elke keer as dit afgaan te bid. Doen dit vir ‘n week. Hoe beïnvloed dit jou om deurlopend in die dag met God te gesels?

Familie-fokus:

  • Maak saam ‘n eenvoudige liedjie op, op ‘n maklike of bekende wysie, wat julle kan sing beide as dinge goed gaan en as dinge sleg gaan.

4. Gehoorsaamheid

Gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid begin meestal in ons gedagtes. Die maniere waarop ons oor die lewe dink, is die beginpunt van wat ons doen. Gehoorsaamheid aan God lyk dikwels anders as die manier waarop mense om ons leef. Dit vra dus dikwels dat ons ‘n keuse moet maak om anders op te tree. Daarom moet ons eers luister na God en die Bybel om te weet wat God van ons vra. Die woordspeling in die woord gehoorsaam (“gehoor” en “saam”) help ons hiermee. Ons moet eers God “hoor” en dan “saam” met die Heilige Gees dit doen. Gehoorsaamheid is nie ‘n voorwaarde om God se genade te verdien nie, maar is ‘n spontane reaksie of keuse in antwoord tot God se liefde. 


Delf Dieper: Gehoorsaamheid

— Marnus Havenga

Lees meer:


Luister: 2 Konings 5:1-14

Naäman word genees van melaatsheid

1Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was ‘n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here ‘n oorwinning aan Aram besorg. Die man was ‘n dapper soldaat, maar hy het melaats geword.

2Op een van hulle strooptogte het die Arameërs ‘n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. 3Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.”

4Naäman het by die koning gekom en hom meegedeel wat die dogtertjie uit Israel gesê het.

5“Gaan gerus,” het die koning van Aram gesê, “ek stuur jou met ‘n brief na die koning van Israel toe.”

Hy het vertrek en drie honderd twee en veertig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere met hom saamgevat. 6Hy het die brief na die koning van Israel toe gebring. Dit het só gelui: “Ek het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.”

7Toe die koning die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my.”

8Elisa die man van God het te hore gekom dat die koning van Israel sy klere geskeur het en het ‘n boodskap aan die koning gestuur: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar ‘n profeet in Israel is.”

9Toe Naäman met sy wa en perde daar aankom, het hy stilgehou voor die deur van Elisa se huis. 10Elisa het ‘n boodskap na hom toe gestuur: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees.”

11Naäman het vererg weggery en gesê: “Ek het darem gedink hy sou uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem. 12Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?”

So het hy woedend daarvandaan teruggery.

13Sy amptenare het by hom gekom en mooi met hom gepraat: “Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?”

14Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van ‘n klein seuntjie en hy was weer rein. 

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Wat verras jou in hierdie verhaal?
  • Met watter emosie in die storie kan jy jouself vereenselwig?
  • Wat moes Naäman gedoen het om gesond te word?
  • Wat het hom gekeer om dit te doen?
  • Kan jy dink aan ooreenkomste tussen ons optrede en dié van Naäman?
  • Hoe kan jy dit wat jy “hoor” in die storie vandag, leef “saam” met die Heilige Gees?

Doen:

  • Om gehoorsaam te wees moet ons kan luister. Hoe goed luister jy? Wanneer iemand iets vir jou sê vandag, vra: “Hoor ek jou reg as jy sê…” en herhaal wat gesê is in jou eie woorde om dit te toets.

Bid:

  • Lees die teks weer stadig deur. Wag en kyk of daar iets vir jou uitstaan. Wanneer iets uitstaan, vra vir die Heilige Gees wat jy daaruit moet hoor. 

Tiener-fokus:

Doen die “daaglikse nadenke” oefening uit die vroeë christelike kerk. Jy kan dit alleen doen of saam met ander. Neem ’n paar oomblikke en dink terug oor die dag. Dink na oor die volgende vrae:

  • Waar het God vandag met jou gepraat? Waar het God raakgesien?
  • Waar het jy iets gesien of gedoen wat jy dink God nie van gehou het nie?

Familie-fokus:

  • Gaan sit vir ‘n paar minute op ’n stillerige plek in ‘n tuin. Maak seker almal se fone, musiek en die televisie is af. Luister na alles wat gebeur. Watter geluide kan julle alles hoor? Wat sê dit vir julle oor alles wat in jou omgewing aangaan? Deel met mekaar hoe elkeen die stilte ervaar het.

5. Getuienis

As Christene is ons geroep om aktief deel te neem aan God se Koninkryk deur dit uit te leef en God se goeie nuus te deel met ander. Ons glo dat die getuienis wat ons uitdra God se liefde vir ander sigbaar kan en moet maak. Ons gesindheid as ons getuig mag nie wees dat ander (ongelowige) mense minderwaardig is nie, maar dat alle mense gelyk is, omdat ons almal die liefde en genade van God nodig het. Ons getuienis is woorde maar ook dade, wat ons dag en nag moet uitleef deur as ’t ware Jesus te wees vir ander. 

Luister: Johannes 4:1–42

Jesus en die Samaritaanse vrou

1Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes. – 2Eintlik was dit nie Jesus wat gedoop het nie, maar sy dissipels. – 3Toe Jesus dit verneem, het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe gegaan. 4Hy moes deur Samaria gaan.

5Hy kom toe by ’n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. 6Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag.

7Daar kom toe ’n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My ’n bietjie water om te drink.”

8Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop.

9Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat ’n Jood is, vir my, ’n Samaritaanse vrou, water om te drink?”

Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie.

10Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My ’n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”

11Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, jy het nie eens ’n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? 12Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?”

13Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”

15Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.”

16Hy sê toe vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.”

17Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie ’n man nie.”

En Jesus sê vir haar: “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie ’n man nie.’ 18Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.”

19Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, ek sien dat u ’n profeet is. 20Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar ’n mens God moet aanbid, is in Jerusalem.”

21Jesus sê toe vir haar: “Glo My, Mevrou, daar kom ’n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. 22Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode. 23Maar daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. 24God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.”

25Die vrou het vir Hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.”

26Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.”

27Net toe het sy dissipels teruggekom en hulle was verbaas dat Hy met ’n vrou praat. Tog het niemand vir haar gevra: “Wat wil jy hê?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie.

28Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: 29“Kom kyk, hier is ’n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?”

30Die mense het toe uit die dorp uit na Jesus toe begin kom.

31Intussen het sy dissipels by Hom aangedring: “Rabbi, eet tog ’n stukkie.”

32Maar Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.”

33Die dissipels sê toe vir mekaar: “Sou iemand dalk vir Hom iets te ete gebring het?”

34Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. 35Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. 36Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. 37Hier is die gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’ 38Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid.”

39Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” 40Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly. 41Nog baie meer van hulle het toe tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het; 42en hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Hoekom was die vrou so geskok dat Jesus met haar wou praat?
  • Wat beteken dit vir jou dat Jesus die vrou ontmoet daar waar sy is in haar omstandighede?
  • Waarom het die vrou vir almal in haar dorp gaan vertel van Jesus?
  • Waarom het die mense in Jesus geglo?
  • Wat, dink jy, is die beste manier om van, en oor, Jesus te getuig?
  • Volgens jou, wat beteken dit om Jesus te wees in ’n wêreld wat Hom nodig het?

Doen:

  • Neem tyd om jou geloofstorie (hoe jy Jesus leer ken het) neer te skryf. Skryf ook hoe jy vandag Hom beleef en raaksien. Daag jouself uit om dit met een persoon te deel.

Bid:

  • Jesus, help my om geleenthede raak te sien om te getuig en gee my die wysheid om… 

Tiener-fokus:

  • Daag jouself uit om elke dag vir ‘n week lank iemand wat ‘n vreemdeling is te ontmoet en hul storie beter te leer ken. Vra wat hul naam is, hoe hulle hul werk of skool ervaar en wat hul grootste vreugde en uitdaging is.

Familie-fokus:

  • Kry ‘n baie groot (bv. A2 of groter) vel papier, en laat elkeen daarop skryf of teken waarom hulle vir Jesus liefhet. Plak dit dan op in die huis waar almal wat inloop of besoek dit kan sien.