You are currently viewing 3. Diensbaarheid

3. Diensbaarheid

  • Post author:
  • Post category:Eer van God

Jesus kom wys vir ons wat opregte diensbaarheid beteken – om bereid te wees om jouself te verneder sodat ander verhoog kan word. Jesus se diensbaarheid kom wys vir ons hoe God se koninkryk lyk – waar niemand té belangrik is om iemand anders te dien nie en waar leiers juis bereid moet wees om van hulself op te offer vir ander.  Jesus se voorbeeld wys vir ons dat diensbaarheid begin met ‘n gesindheid van liefde.


Delf Dieper: Diens aan ander

Braam Hannekom

Lees meer:


Luister: Johannes 13:1-17

Jesus was die voete van sy dissipels

1Voor die viering van die paasfees het Jesus reeds geweet dat die tyd vir Hom gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan. Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad.

2Jesus en sy dissipels was aan tafel. Die duiwel het toe al klaar vir Judas seun van Simon Iskariot op die gedagte gebring om Jesus te verraai. 3Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan. 4Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en ‘n handdoek gevat en om Hom vasgemaak. 5Daarna het Hy water in ‘n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het.

6Toe Hy by Simon Petrus kom, vra dié vir Hom: “Here, gaan Ú mý voete was?”

7En Jesus antwoord hom: “Wat Ek doen, begryp jy nie nóú nie, maar later sal jy dit verstaan.”

8Maar Petrus sê vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!” Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.”

9Simon Petrus sê toe vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig.”

10En Jesus sê vir hom: “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon, maar nie almal nie.”

11Jesus het geweet wie Hom sou verraai; daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.” 

12Toe Hy hulle voete klaar gewas en sy bokleed aangetrek het en weer aangesit het, sê Hy vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? 13Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. 14As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. 15Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. 16Dít verseker Ek julle: ‘n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en ‘n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. 17Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen.”

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld? 

Dink:

  • Hoekom het Jesus besluit om die dissipels se voete te was?
  • As jy die verhaal in ‘n moderne konteks moes oorskryf, wat dink jy sou Jesus gedoen het om diensbaarheid te illustreer?
  • Wat leer Jesus se voorbeeld vir ons oor hoe God van ons as Christene verwag om te leef in die wêreld?
  • Is diensbaarheid maklik vir jou? Hoekom? Hoekom nie?
  • Kan diensbaarheid verder strek as net ander mense? Wat van die skepping?

Doen:

  • Tree diensbaar op teenoor iemand hierdie week. Onthou om diensbaar te wees beteken om iets van jouself op te offer – gee van jou tyd om iemand anders se lewe makliker te maak!

Bid:

  • Jesus, help my om ander te dien deur…

Tiener-fokus:

  • Doen vir elke lid in jou familie iets diensbaar sonder dat hulle daarvoor vra.
  • Stap kaalvoet vir ‘n dag lank en dink aan hoe jy diensbaar kan wees vir mense in nood.

Familie-fokus:

  • Gee vir elkeen in die gesin kans om die ander gesinslede se voete te was. Doen dit as ‘n teken dat julle bereid is om diensbaar te wees in die huis vir mekaar.
  • Hang ‘n skoen by die voordeur as ‘n teken daarvan dat julle kies om diensbaar te leef.
  • Gesels saam oor hoe jy met al jou liggaamsdele diensbaar kan wees. Kop, hande, voete, ore, mond, oë, hart. Julle kan ‘n plakkaat maak van al die idees.