You are currently viewing 4. Ek glo aan die gemeenskap van die heiliges

4. Ek glo aan die gemeenskap van die heiliges

Hierdie deel van die apostoliese geloofsbelydenis handel oor die Kerk. Ons hoor van die gemeenskap van die heiliges, maar wat beteken dit om ʼn gemeenskap te wees? ʼn Gemeenskap is ʼn groep mense wat saamleef in dieselfde plekke en ruimtes, en hulle is werklik mekaar se naastes.

Vertel:

  • Vertel van jou gemeenskap. Waar is die plekke waar mense bymekaar kom en mekaar gereeld sien? (skool, kerk, dokter, restourante, kuierplekke, parkies, ens.)

Luister: Handelinge 2:43-47

Die eerste gemeente

43Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Dink:

  • Hoekom kan ons hierdie groep mense ʼn “gemeenskap” noem?
  • Hoe lyk ʼn gemeenskap volgens hierdie gedeelte?
  • Hoe, dink jy, lyk vriendskappe binne so ʼn gemeenskap?

Doen:

  • Besluit om hierdie week na ʼn ander groep mense in jou gemeenskap te gaan en saam met hulle te gaan kuier of speel (kinders, ouetehuis, hospitaal, kerk, ens.)

Bid:

  • Se vir die Here dankie vir die gemeenskap waarbinne hy jou geplaas het. Vra vir hom hoe jy meer kan deelneem en ʼn groter impak op jou gemeenskap kan maak.

Tiener fokus:

  • Teken ʼn kaart van jou gemeenskap. Waar is al die plekke waar mense bymekaar kom? Waar is die plekke waar jy nog nie was nie? Probeer om hierdie week daar te gaan en kyk of jy enige nuwe mense ontmoet (bv. by pasiënte in die hospitaal gaan kuier, of by ʼn parkie waar daar ʼn ander groep kinders speel, ens.)

Familie fokus:

  • Maak ʼn lys van julle gunsteling plekke in julle gemeenskap. Waar was julle lanklaas gewees? Gaan saam as gesin na hierdie plek en gesels met die mense daar (bv. By ʼn restourant, tuisnywerheid, museum, ens.)