You are currently viewing 4. God se stem onderskei

4. God se stem onderskei

  • Post author:
  • Post category:Bybel

Tussen vol programme en skedules vind ons dit soms moeilik om God se stem te hoor en te onderskei. En selfs wanneer ons God se stem hoor is ons nie altyd seker of dit werklik God se stem is wat ons hoor nie. Ons kan God se stem op verskeie maniere hoor en onderskei, maar een van die belangrikste maniere waarop God met ons praat is deur die Skrif – met ander woorde deur die Bybel en deur Jesus wat God se lewende Woord op aarde is. Dit is waar God se wil vir ons en vir hierdie wêreld openbaar word. Om God se stem te hoor, moet ons dus tyd maak om die Woord (Jesus en die Bybel) te leer ken en daarna te luister. Soms het ons mense nodig om ons te help onderskei en te dink oor dit wat ons gehoor het. Hoe gelowiges in die verlede en in die groter kerk vandag die Bybel lees, kan ons vir ons leidrade gee om dit te verstaan. 

Luister: 1 Samuel 3: 1-18

Die eerste openbaring aan Samuel

1 Die seun Samuel het die Here gedien onder toesig van Eli. Die woord van die Here is in daardie tyd min gehoor, daar was nie dikwels openbarings nie.

2 Eli se oë het al swak begin word, hy kon nie meer goed sien nie. Vroeg een môre het Eli nog op sy slaapplek gelê, 3 en die lamp van God het nog helder gebrand. Samuel het ook nog gelê in die tempel van die Here waar die ark van God was,4 en toe roep die Here na Samuel.

Samuel het geantwoord: “Ek kom!” 5 Hy het na Eli toe gehardloop en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.” Maar Eli sê: “Ek het nie geroep nie! Gaan lê maar weer.” En Samuel het gaan lê. 6 Die Here het weer na Samuel geroep, en hy het opgestaan, na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.” Toe sê Eli: “My seun, ek het nie geroep nie! Gaan lê maar weer.”  7 Maar Samuel het nog nie die Here geken nie, want die woord van die Here was nog nie voorheen aan hom geopenbaar nie.

8 Die Here het Samuel toe ‘n derde keer geroep, en hy het opgestaan en na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.” Toe besef Eli dat die Here die seun geroep het, 9 en Eli sê vir Samuel: “Gaan lê en as iemand jou weer roep, sê jy: Praat, Here, u dienaar luister!” Samuel het toe gegaan en op sy slaapplek gaan lê. 10

Die Here het gekom en gaan staan en soos die vorige kere geroep: “Samuel, Samuel!” En Samuel sê: “Praat, Here, u dienaar luister!”

11 Die Here sê toe vir Samuel: “Ek gaan ‘n ding in Israel doen wat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal laat tuit. 12 Op daardie dag sal Ek vir Eli alles voltrek wat Ek oor sy familie aangekondig het, van begin tot end. 13 Ek het aan hom bekend gemaak dat Ek sy familie vir altyd gaan straf oor die ongeregtigheid waarvan hy geweet het. Ja, toe sy seuns die vloek oor hulle gebring het, het hy hulle nie bestraf nie. 14Daarom bevestig Ek met ‘n eed aangaande die familie van Eli: die ongeregtigheid van Eli se familie sal sekerlik nooit deur diereoffer of graanoffer versoen word nie.”

15 Daarna het Samuel gaan lê tot die oggend, en toe die deure van die huis van die Here oopgemaak. Hy was bang om die openbaring aan Eli te gaan vertel. 16 Maar Eli het vir Samuel geroep en gesê: “Samuel, my seun!” Hy het gesê: “Ek kom!” 17Eli sê toe: “Wat het die Here met jou gepraat? Moenie iets vir my wegsteek nie. God sal jou met die dood straf as jy iets van wat Hy aan jou bekend gemaak het, vir my wegsteek.”

18Toe vertel Samuel hom alles; hy het niks weggesteek nie. En Eli het gesê: “Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil.”

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • As jy ‘n kleur moes koppel aan die gedeelte en hoe dit jou laat voel, wat sal dit wees en hoekom?
  • Kan jy dink aan ‘n ervaring waar jy gevoel het God praat met jou?
  • Hoekom dink jy is dit moeilik vir Samuel om God se stem te onderskei? Wat dink jy het gehelp dat Hy uiteidelik God se stem kon onderskei?
  • Hoekom dink jy was dit belangrik dat Samuel sê: “Spreek Heer, U dienaar luister”?
  • Waar sien of hoor jy gewoonlik God se stem?
  • Wat dink jy maak dit vir jou moeilik/maklik om God se stem te onderskei? 

Doen:

  • Probeer om vir twee of drie ure in jou dag nie te praat nie en slegs te luister na ander. Probeer reageer in gesprekke deur eerder vrae te vra as stellings te maak. 

Bid:

  • Raak stil en probeer slegs op jou asemhaling en God se teenwoordigheid fokus vir 5min (of so lank jy kan). As jou gedagtes dwaal bring dit weer terug.

Tiener fokus:

  • YouTube Bouwer Bosch se video “God” en luister of dit vir jou iets sê oor hoe hy/ons God se stem onderskei.

Familie fokus:

Speel “Telefoontjie-Telefoontjie” waar die eerste persoon in die ry ‘n kort boodskap in die persoon langs hulle se oor fluister. Hierdie boodskap word dan al in die ry af vir elke persoon gefluister. Die laaste persoon moet dit wat hulle gehoor het hardop sê. Mens moet fyn luister om die regte boodskap te hoor en oor te dra. Gesels oor hoe dit verskil van hoe ons God se stem hoor.