Daar is oomblikke in ons lewe wat so spesiaal is dat ons moeite wil doen om dit te onthou en te vier. Een van daardie oomblikke is wanneer ons besef dat God ons oneindig lief het en ons dan kies om daardie liefde te aanvaar en ‘n navolger van Christus te word. Belydenis van geloof is ‘n teken wat ons help om daardie baie spesiale oomblik te merk, te onthou en te vier – ‘n roetemerker op ons geloofspad. Ons plaas roetemerkers op ‘n pad wanneer iets belangrik daar gebeur of wanneer ons nie ‘n plek wil vergeet nie. Om belydenis van geloof af te lê, is ‘n geleentheid vir ons om tussen ander gelowiges wat vir ons omgee te antwoord op ons doop. Die doop is ‘n teken daarvan dat God ons gekies het – selfs voor ons dit kon verstaan. God het belowe dat God vir die res van ons lewens by ons sal wees, vir ons sal lief wees en ons vergewe – maak nie saak wat ons doen of wat gebeur nie. Wanneer ons dan ons geloof bely, sê ons daarmee dat ons daardie liefde en sorg van God aanvaar. Ons kies gevolglik: 1) om ons lewens te leef met die wete dat God by ons is, en 2) om God se leiding in ons lewens te volg.
Luister: Josua 4: 1-24
Josua en klippe pak
1 Nadat die hele nasie deur die Jordaan is, het die Here vir Josua gesê: 2 “Neem nou die twaalf man uit die volk, een uit elke stam,3 en sê vir hulle: Vat hier uit die Jordaan, op die plek waar die priesters gestaan het, twaalf klippe en neem hulle saam met julle deur en sit hulle neer op die plek waar julle vannag oorbly.”
4 Josua roep toe die twaalf man wat hy uit die Israeliete aangewys het, een uit elke stam,5 en hy sê vir hulle: “Gaan by die ark van die Here julle God verby tot in die middel van die Jordaan en tel elkeen ‘n klip op die skouer, in ooreenstemming met die getal stamme van die Israeliete.6 Dit moet onder julle as ‘n teken dien. Wanneer julle kinders julle eendag vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir u?’ 7moet julle vir hulle sê die Jordaan se water is voor die verbondsark van die Here afgesny; toe die ark deur die Jordaan moes gaan, is die rivier se water afgesny; daarom is hierdie klippe vir die Israeliete ‘n blywende herinnering daaraan.”
8 Die Israeliete het gemaak soos Josua gesê het. Hulle het die twaalf klippe in ooreenstemming met die getal stamme van Israel gevat soos die Here vir Josua gesê het, dit met hulle saam deurgeneem na die plek toe waar hulle sou oornag en dit daar neergesit. 9 Josua het ook twaalf klippe binne-in die Jordaan opgerig, op die plek waar die priesters gestaan het wat die verbondsark gedra het. Die klippe is vandag nog daar. 10 Die priesters wat die verbondsark gedra het, het in die Jordaan bly staan tot alles afgehandel was wat die Here vir Josua opgedra het om vir die volk te sê in ooreenstemming met alles wat Moses vir Josua beveel het. Die volk was haastig om deur te gaan.11
Toe die volk klaar deur is, het die ark van die Here deurgegaan. Die priesters was voor die volk. 12 Die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam het, soos Moses hulle beveel het, in formasie voor die Israeliete getrek. 13 Omtrent veertig duisend gewapende manne het vir die oorlog die rivier deurgegaan voor die ark van die Here uit na die Jerigovlakte toe. 14 Die Here het daardie dag aan Josua hoë aansien gegee in die oë van die hele Israel. Hulle het sy lewe lank aan hom eerbied betoon soos aan Moses.
15Die Here het vir Josua gesê: 16 “Sê vir die priesters wat die ark met die getuienis dra, hulle moet uit die Jordaan kom.” 17 Josua het toe die priesters beveel om uit die Jordaan te kom,18 en toe die priesters wat die verbondsark van die Here dra, uit die Jordaan kom en hulle voetsole die grond aan die kant raak, het die rivier se waters weer op hulle ou plek begin loop. Soos tevore het hy weer al sy oewers oorstroom. 19Die volk het op die tiende dag van die eerste maand uit die Jordaan gekom en kamp opgeslaan in Gilgal, oos van Jerigo. 20 Josua het die twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan saamgebring het, in Gilgal opgestel. 21 en vir die Israeliete gesê: “As julle kinders eendag hulle pa’s vra: ‘Wat beteken daardie klippe?’ 22 moet julle die kinders inlig en sê: Israel het op droë grond deur hierdie Jordaanrivier gegaan. 23 Die Here julle God het die Jordaan se water voor julle laat opdroog sodat julle kon deurgaan, net soos Hy met die Rietsee gemaak het toe Hy dit voor ons laat opdroog het sodat ons kon deurgaan. 24 Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kan besef dat die mag van die Here groot is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien.
Kyk:
- Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
- Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
- Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?
Dink:
- Wat sê die teks vir jou oor God? Wat sê dit oor mense/jouself?
- Hoekom dink jy wou God hê die Israeliete moet klippe uit die Jordaan optel en neersit waar hulle oornag?
- Noem oomblikke uit jou verlede wat jy dink God sou wou hê jy moet merk?
- As jou kinders eendag vir jou vra wat het jou belydenis van geloof vir jou beteken, wat sal jy antwoord?
Doen:
- Tel ‘n klip op en sit dit iewers buite of selfs in jou huis/kamer waar jy dit gereeld kan sien. Onthou elke keer as jy daarby verby stap, dat God by jou is net soos wat God saam met die Israeliete was. Jy kan elke keer ‘n klip bysit wanneer jy ‘n spesiale ervaring van God se teenwoordigheid/sorg gehad het en dit wil onthou.
Bid:
- Maak ‘n lys van ‘n paar oomblikke in jou lewe waar jy ‘n spesiale ervaring van God gehad het en gesels met die Here daaroor.
Tiener-fokus:
- Teken ‘n tydlyn van die hoofstukke van jou lewe. Vul die hoogtepunte en laagtepunte in. Watter spesiale oomblikke wat jy wil onthou en vier? Hoekom was hierdie oomblikke spesiaal in jou lewe? Hoe was God teenwoordig in al die verskillende hoofstukke?
- Vra iemand in jou familie of iemand wat jy ken wat reeds belydenis van geloof afgelê het, om te vertel van hul ervaring en wat dit vir hulle beteken het.
Familie-fokus:
- Speel die toneel van die Israeliete wat deur die Jordaan gaan uit deur by/deur water te loop (‘n stroompie, dam of swembad) en dan ‘n stapel klippe te pak. Vertel weer die verhaal van Josua 4 en gesels oor God se getrouheid.