God is die Skepper van die wêreld. God is ons Versorger en Vriend, die Almagtige, Alomteenwoordige God wat ons in genade kies en onvoorwaardelik liefhet. God kom wys vir ons deur Jesus hoe God se koningskap op aarde lyk. God is steeds betrokke in mense se lewens en in God se skepping deur die werking van die Heilige Gees. Ons lewensdoel is om God te aanbid en eer te gee deur alles wat ons is, dink, doen en sê. Aanbidding beteken om God al die eer te gee deur hoe ons daaglikse lewe en in die manier waarop ons God se koninkryk uitleef en vestig. God roep ons om die wêreld te help genees, en God se vrede en geregtigheid op aarde te bring.
Delf Dieper: Soli Deo Gloria
— Robert Vosloo
Lees meer:
Soli Deo gloria is ‘n Latynse frase wat “aan God alleen die eer” beteken. In die gereformeerde tradisie gebruik mense dikwels hierdie woorde saam met die ander “solas” (of solae): sola Scriptura (deur die Skrif alleen), sola fide (deur die geloof alleen), sola gratia (uit genade alleen) en solus Christus (deur Christus alleen). Die uitdrukking soli Deo gloria word dikwels as die gedagte beskou wat al die ander solas saambind en die regte fokus en gerigtheid gee. In die Chistelike lewe gaan dit daarom nie oor óns eie eer nie, maar oor God se eer en heerlikheid. Ons leef vanuit die getuienis van die Bybel dat ons alleen uit genade deur die geloof in Jesus Christus gered word – daarom kom alle eer aan God alleen toe. Hierdie radikale gerigtheid op die eer van God is wat die uitdrukking soli Deo gloria sy diepste betekenis en krag gee.
Die bekende komponis Johann Sebastian Bach (gebore 1685, en veral bekend vir sy Matteus en Johannes passies) het die letters S.D.G. (soli Deo gloria) tot sy komposies toegevoeg, en dit gee ‘n aanduiding hoe hy oor sy werk gedink het. En deur die eeue sou gelowiges deur dié frase uitdrukking gee aan hulle dankbare oortuiging dat hulle al hulle gawes en talente uit God se hand ontvang het, en daarom God met toewyding deur hulle lewens en dade wil eer.
Telkens lees ons in die Bybel die oproep om God te verheerlik omdat die eer en heerlikheid aan God behoort. Dink maar aan aan die woorde uit Romeine 11:36: “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid.” Of in die woorde van 1 Petrus 4:11: “So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid”!”
Die gedagte dat die eer en heerlikheid aan God behoort loop soos ‘n goue draad deur die hele Bybel. Dit is belangrik om te besef dat ons as mense nie die misterie en grootheid van God se heerlikheid kan deurskou of volledig begryp nie. Maar ons kan wel vashou aan die gedagte dat God iets van sy heerlikheid bekend maak. Hoe doen God dit? God vertoon sy heerlikheid ondermeer deur die skepping, wat die 16de eeuse kerkhervormer Johannes Calvyn as “die teater van God se glorie” beskryf het. Ons sien ook iets van God se heerlikheid as ons na mense kyk. Mense – álle mense – is na die beeld van God geskep en besit daarom inherente waardigheid en skoonheid. God openbaar bowenal sy heerlikheid in die persoon van Jesus Christus, in sy menswording, lyding, kruisiging, opstanding en lewende teenwoordigheid. By sy geboorte het die engele daarom gesing: “Ere aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het” (Lukas 2:13-14).
As ons aan God alleen die eer bring, sê ons daarmee dat die eer nie vir ons toekom nie, maar aan God behoort. Dit sal egter ‘n misverstand wees om te dink dat hierdie God ‘n God is wie se eer van die welwees van mense en die skepping losgemaak kan word. Nee, hierdie God wat ryk in heerlikheid is, is die God wat mense en die res van die skepping lief het, wat juis sigself verheerlik deur deur die mens en die skepping met eer te kroon. Daarom vergesel hierdie God mense met sy reddende en helpende teenwoordigheid (soos die wolk- en vuurkolom waarvan ons in die Ou Testament lees). Hierdie God bevry mense van onderdrukking en red hulle uit nood. Hierdie God is die God wat in Christus mense en die hele skepping heelmaak en vernuwe. Dit is juis in die vernedering en kruis van Christus – soos Maarten Luther dikwels beklemtoon het – dat ons by uitstek iets van die vreemde heerlikheid van God herken, die God wat ‘n God vir ons is.
As ons die uitdrukking soli Deo gloria gebruik, dan kan dit as teken van ons toewyding aan God gesien word. Maar dan moet ons raaksien dat hierdie toewyding ontspring uit dankbaarheid vir wat God vir ons in Christus en uit genade gedoen het. Dan verstaan ons dat ons hoogste lewensdoel daarin geleë is om dié God te eer, en dat om God te eer ten diepste met vreugde saamhang. ‘n Teks uit die 17de eeu, die Westminster Shorter Catechism, verwoord iets van hierdie gedagte wanneer dit as antwoord op die vraag wat die hoogste doel van die mens se lewe is, soos volg antwoord: “The chief end of human beings is to glorify God, and enjoy Him forever.”
Luister: Lukas 7:36-50
Jesus by Simon, die Fariseër
36Een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het toe in die huis van die Fariseër ingegaan en aan tafel plek ingeneem.
37‘n Sekere vrou in die dorp, wat ‘n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe ‘n albaste flessie met reukolie 38en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf.
39Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: “Hy, as hy ‘n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ‘n sondares is.”
40Maar Jesus spreek hom aan en sê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.”
“Meneer, sê dit maar!” antwoord hy.
41Jesus sê toe: “Twee mense was in die skuld by ‘n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig. 42Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskeld. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?”
43Simon antwoord: “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskeld het.”
“Jou antwoord is heeltemal reg,” sê Jesus, 44en Hy draai na die vrou toe om en sê verder vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom – en jy, water vir my voete het jy My nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog. 45‘n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. 46My kop het jy nie eens met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf. 47Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.”
48En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.”
49Toe begin dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?”
50Maar Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”
Kyk:
- Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
- Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
- Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?
Dink:
- Kan jy jouself vereenselwig met die sondig vrou, Jesus of Simon in die verhaal? Hoekom?
- Hoe verras Jesus jou in hierdie verhaal?
- Wat is die hart van aanbidding volgens hierdie gedeelte?
- In watter aspek van jou lewe is dit vir jou ‘n uitdaging om tot God se eer te leef?
- Wat sê hierdie gedeelte vir jou oor jou eie oorgawe?
Doen:
- Probeer doelbewus hierdie week na meer aanbiddingsmusiek luister of self te sing wanneer jy alleen is.
Bid:
- Lees Filippense 4:18. Stap in die tuin en let op die reuke van die plante en omgewing. Vra vir Jesus om jou lewe ‘n “aangename geur” vir Hom te maak.
Tiener-fokus:
- Plak op jou kamerdeur, jou spieël en deodorant ‘n plakker wat sê “God se eer” sodat jy onthou dat jou optrede en voorbeeld soos ‘n aangename geur moet wees.
Familie-fokus:
- Maak ‘n weekrooster van almal in die familie se aktiwiteite. Gesels saam oor hoe ‘n mens tot God se eer in elkeen van hierdie dinge kan leef.