You are currently viewing 1. Geloof

1. Geloof

  • Post author:
  • Post category:Geloof

Geloof is die een ding wat ons nodig het om te leef in ’n verhouding met Jesus Christus. Baie mense weet van Jesus en bewonder Hom selfs, maar die vraag is of jy in Hom glo? Om te glo beteken nie jy is hierdie wonder-Christen wat al die antwoorde op die lewe se moeilike vra het nie. Geloof is nie iets wat jy bereik nie. Dit beteken ook nie vroomheid nie. Dit is ’n geskenk van die Heilige Gees wat jou instaat stel om op reis te wees met God en God op God se Woord te neem. Dit is die vermoë om deur die lewe se op- en af-tye vas te hou aan die wete dat God jou God se geliefde kind noem en jou nooit in die steek sal laat nie.

Geloof los nie ons probleme op nie, maar ons geloof in God se trou help ons om ons probleme met meer kalmte te hanteer sodat ons daardeur kan groei.

Luister: Markus 1:16-20

Jesus roep sy eerste dissipels

16Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. 17Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” 18Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg. 19Toe Hy ‘n entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak, 20en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan.

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Verbeel jou jy is ‘n dissipel in die verhaal wat besig is met jou dagtaak en Jesus kom verby en sê vir jou: “Kom hier”. Waaraan sou jy dink? Wat sou jy doen? Hoe sal jy voel?
  • Wat beteken dit vir jou dat jy deur Jesus geroep is?
  • Wat behels dit in vandag se tyd om Jesus te volg?
  • Kan jy dink aan ‘n geleentheid waar jy uitgedaag is om iets wat vir jou belangrik is agter te los vir jou geloof?

Doen:

  • Vra iemand vandag uit oor waar hulle geloofspad met die Here begin het.

Bid:

  • Here, ek wil U ook graag onvoorwaardelik volg. Help my om te glo, want daar is dikwels ander dinge in my lewe wat vir my moeilik maak soos…

Tiener-fokus:

  • Maak ‘n lysie van goed waarvoor jy die Here blindelings wil vertrou. Vou dit klein op en steek dit êrens ver weg as ‘n simbool van jou oorgee aan die Here. Dit kan ook as teken dien dat jy glo dat God op God se tyd en God se manier vir jou sal antwoord.

Familie-fokus:

  • Skryf as familie ‘n geloofsbelydenis waarin julle in jul eie woorde skryf wat julle glo. Gebruik die volgende onderwerpe en skryf ‘n sin of twee by elkeen: Jesus, God, Heilige Gees, Kerk, Bybel, wie ons is en wat ons doen.
  • Kyk saam en bespreek die videogreep “Ek glo – Die Apostoliese geloofsbelydenis”