You are currently viewing 4. Hemelvaart

4. Hemelvaart

  • Post author:
  • Post category:Jesus

Ons vier jaarliks Jesus se Hemelvaart, waar ons bely dat Jesus liggaamlik die wêreld verlaat het om ’n nuwe ewige woning vir ons by die Vader voor te berei. Hiermee sê ons ook dat Jesus vir altyd koning is, en vier ons ook veral sy wederkoms, waarby Hy ons en die hele skepping nuut gaan maak. Tog glo ons dat Jesus ons nie verlaat het nie, maar dat Hy alomteenwoordig is deur sy Gees. By Hemelvaart vier ons dus nie dat Jesus ons verlaat het nie, maar dat Hy, hier en nou, ewig en oral by ons is.


Delf Dieper: Hemelvaart

— Coenie Burger

Lees meer:


Luister: Handelinge 9-11

Jesus se hemelvaart

9Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Probeer in die dissipels se skoene inklim. Nadat Jesus so baie dinge gedoen het, insluitend om uit die dood uit op te staan, hoe dink julle het hulle gevoel toe Jesus blyk of Hy hulle verlaat?
  • Waarom het die dissipels in die lug bly kyk?
  • Waar is Jesus nou?
  • Wat is die taak van al Jesus se dissipels as ons bely dat Hy hier en nou by ons is?

Doen:

  • Gaan ry of stap ‘n ent op ‘n oop pad, terwyl jy nadink oor die gedagte “heaven is not a destination, but a journey”.
  • Lees Jesus se woorde aan die dissipels voor sy dood, opstanding en hemelvaart in Johannes 16 en 17 en onderstreep al die beloftes.

Bid:

  • Gesels met Jesus met die wete dat Hy hier is. Vertel vir Hom hoe dit met jou gaan soos vir ’n vriend. Vra Hom wat sy wil vir jou is.

Tiener fokus:

  • Vra vir ‘n paar lukrake mense waar en wat hulle dink die hemel is. Vra daarna waar hulle dink Jesus is. Is die algemene oortuiging dat die hemel ‘n “stad in die wolke is”? Glo die meeste dat Jesus “ver daar bo” is, of “hier by ons” is?

Familie fokus:

  • Eet saam, maar hou ’n sitplek oop wat figuurlik Jesus s’n is. Vra vir mekaar hoe ons anders kan optree omdat Jesus tussen ons is, en hoe die wêreld anders kan lyk as ons as Jesus se dissipels leef met Hom in ons daaglikse lewens.