You are currently viewing 7. Ek glo dat Jesus opgestaan het uit die dode

7. Ek glo dat Jesus opgestaan het uit die dode

Jesus het deur die God se krag, uit die dood opgestaan en daardeur oorwin Hy die dood. Wanneer Jesus uit die dood opstaan is dit ons waarborg dat ons ook vrygemaak word van die ewige dood, fisies en geestelik. Jesus se opstanding waarborg dus vir my lewe, en dit, lewe in oorvloed.

Vertel:

  • Verskeie wetenskaplikes sê dat die eerste persoon wat 200 jaar oud gaan word, reeds gebore is. As ek sou kon leef tot ek 200 jaar oud is – hoe sou ek leef? Of selfs as ek nie kon doodgaan nie – sou ek anders leef?

Luister: Romeine 4:23-25

Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word

23Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, 24maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, ons wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 25Hy is van vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.

Dink:

  • Waaraan dink jy het die eerste mense gedink as hulle sou hoor “Jesus het uit die dood opgestaan”?
  • Wat beteken dit om vrygespreek te word – en waarvan word ek vrygespreek?
  • Jesus se opstanding verseker dat ek werklik kan lewe – hoe moet ‘n lewe vanuit die opstanding van Jesus lyk?

Doen:

  • Deur die doop het ons deel aan Jesus se opstanding uit die dood. Maak met water ’n merk in mekaar se hande om mekaar aan julle doop te herinner en sê vir mekaar, terwyl julle dit doen: “Jesus lewe en ons lewe saam met hom.”

Bid:

  • Sê vir Jesus dankie dat hy lewe. Dink aan alles waar jy onlangs nuwe lewe gesien het en sê dankie dat dit ons herinner aan die nuwe lewe wat daar in Jesus is.

Tiener fokus:

  • In die Noordelike Halfrond vier die kerk Paasfees – Jesus se opstanding – in die lente seisoen, wanneer bloeisels en blomme mense herinner aan die nuwe lewe wat daar in Jesus is. Martin Luther het ook skynbaar gesê dat as hy geweet het Jesus kom môre, sal hy vandag ’n boom plant, sodat hy vandag reeds ’n deel kan doen aan die wêreld wat Jesus môre gaan nuut maak. Plant enige saad van jou keuse in ’n blompot en wanneer dit begin groei, onthou Jesus se woorde: “As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in.” (Joh. 12:24)

Familie fokus:

  • Elkeen in die gesin maak vir hulself ‘n persoonlike sertifikaat, met hul doopdatum op, wat as waarborg dien dat jy die lewe ontvang het – die lewe in oorvloed deur die opstanding van Jesus uit die dood.