As Christene is ons geroep om aktief deel te neem aan God se Koninkryk deur dit uit te leef en God se goeie nuus te deel met ander. Ons glo dat die getuienis wat ons uitdra God se liefde vir ander sigbaar kan en moet maak. Ons gesindheid as ons getuig mag nie wees dat ander (ongelowige) mense minderwaardig is nie, maar dat alle mense gelyk is, omdat ons almal die liefde en genade van God nodig het. Ons getuienis is woorde maar ook dade, wat ons dag en nag moet uitleef deur as ’t ware Jesus te wees vir ander.
Luister: Johannes 4:1–42
Jesus en die Samaritaanse vrou
1Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes. – 2Eintlik was dit nie Jesus wat gedoop het nie, maar sy dissipels. – 3Toe Jesus dit verneem, het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe gegaan. 4Hy moes deur Samaria gaan.
5Hy kom toe by ’n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. 6Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag.
7Daar kom toe ’n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My ’n bietjie water om te drink.”
8Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop.
9Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat ’n Jood is, vir my, ’n Samaritaanse vrou, water om te drink?”
Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie.
10Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My ’n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”
11Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, jy het nie eens ’n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? 12Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?”
13Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”
15Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.”
16Hy sê toe vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.”
17Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie ’n man nie.”
En Jesus sê vir haar: “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie ’n man nie.’ 18Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.”
19Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, ek sien dat u ’n profeet is. 20Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar ’n mens God moet aanbid, is in Jerusalem.”
21Jesus sê toe vir haar: “Glo My, Mevrou, daar kom ’n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. 22Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode. 23Maar daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. 24God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.”
25Die vrou het vir Hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.”
26Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.”
27Net toe het sy dissipels teruggekom en hulle was verbaas dat Hy met ’n vrou praat. Tog het niemand vir haar gevra: “Wat wil jy hê?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie.
28Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: 29“Kom kyk, hier is ’n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?”
30Die mense het toe uit die dorp uit na Jesus toe begin kom.
31Intussen het sy dissipels by Hom aangedring: “Rabbi, eet tog ’n stukkie.”
32Maar Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.”
33Die dissipels sê toe vir mekaar: “Sou iemand dalk vir Hom iets te ete gebring het?”
34Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. 35Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. 36Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. 37Hier is die gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’ 38Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid.”
39Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” 40Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly. 41Nog baie meer van hulle het toe tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het; 42en hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”
Kyk:
- Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
- Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
- Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?
Dink:
- Hoekom was die vrou so geskok dat Jesus met haar wou praat?
- Wat beteken dit vir jou dat Jesus die vrou ontmoet daar waar sy is in haar omstandighede?
- Waarom het die vrou vir almal in haar dorp gaan vertel van Jesus?
- Waarom het die mense in Jesus geglo?
- Wat, dink jy, is die beste manier om van, en oor, Jesus te getuig?
- Volgens jou, wat beteken dit om Jesus te wees in ’n wêreld wat Hom nodig het?
Doen:
- Neem tyd om jou geloofstorie (hoe jy Jesus leer ken het) neer te skryf. Skryf ook hoe jy vandag Hom beleef en raaksien. Daag jouself uit om dit met een persoon te deel.
Bid:
- Jesus, help my om geleenthede raak te sien om te getuig en gee my die wysheid om…
Tiener-fokus:
- Daag jouself uit om elke dag vir ‘n week lank iemand wat ‘n vreemdeling is te ontmoet en hul storie beter te leer ken. Vra wat hul naam is, hoe hulle hul werk of skool ervaar en wat hul grootste vreugde en uitdaging is.
Familie-fokus:
- Kry ‘n baie groot (bv. A2 of groter) vel papier, en laat elkeen daarop skryf of teken waarom hulle vir Jesus liefhet. Plak dit dan op in die huis waar almal wat inloop of besoek dit kan sien.