You are currently viewing 2. Ek Glo in Sy Eniggebore Seun

2. Ek Glo in Sy Eniggebore Seun

Ek glo in Sy Eniggebore Seun

Ons leer uit die Bybel dat Jesus die Eniggebore Seun van God is. Die Heidelbergse Kategismus sê dat Christus alleen die ewige natuurlike Seun van God is, met ander woorde: Jesus Christus is die enigste kind van God wat nie deur God gemaak is nie, maar op ’n misterieuse manier nog altyd deel van God was, van die begin af, selfs toe hy as mens op aarde was en sedert sy hemelvaart nog steeds is. Ons verstaan nie mooi hoe dit werk nie, maar Jesus is God, maar anders as die Vader en die Gees. (Op dieselfde oomblik is God die Vader, die Seun en die Gees.) Jesus is die enigste een wat uit God self gebore is, die enigste mens wat nie gemaak is nie, die enigste een wat regtig vir God “Vader” kan noem (hoewel ons ook mag, want as gevolg van Jesus, is ons God se aangeneemde kinders.)

Vertel: Gene

  • Kyk na die video oor gene op YouTube: https://www.youtube.com/watch?v=ubq4eu_TDFc
  • Vertel vir mekaar watter gene jy met jou ouers of grootouers deel.
  • As jy nie jou biologiese ouers ken nie, vertel vir mekaar watter persoonlikheidseienskappe het jy aangeleer by die volwassenes wat vir jou sorg.

Luister: Johannes 1:1-3, 9-18

God se enigste Seun

1In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God.  3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.

9Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.  10Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.

14Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

15Johannes getuig van Hom en roep uit: “Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.”

16Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. 17God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. 18Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.

Dink:

  • Wat sien jy alles raak oor Jesus en wie hy is in die teksgedeelte?
  • Watter woorde word alles in die gedeelte gebruik as name vir Jesus?
  • Watter take het Jesus om elkeen van daai name te kry?
  • Hoekom is dit belangrik dat ons moet glo en weet dat Jesus God se Eniggebore Seun is?

Doen:

  • Johannes 1:18 sê: “1Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.”

Maak ’n lys van al die eienskappe van God wat jy aan kan dink uit al die stories van Jesus.

 

Bid:

  • Gebruik die lys wat jy hier bo gemaak het en sê vir God dankie vir al die verskillende eienskappe wat Jesus vir ons kom wys het.

Tiener fokus:

  • Selfs aanneemkinders begin na ’n tyd sekere ooreenkomste met hul ouers wys. Soms is dit sekere woorde of die manier waarop hulle lag of dalk selfs hoe hulle sit wanneer hulle TV kyk. Jesus het ons God die Vader se aanneemkinders gemaak. Watter eienskap van God wil jy hê moet mense in jou begin raaksien? Watter goed gaan jy meer of minder moet doen om dit te laat gebeur?

Familie fokus:

  • Maak ’n familie-portret van almal wat saam in julle huis woon. Kyk of julle een eienskap kan teken wat almal in die familie deel. Skryf dan by elkeen watter eienskap van God julle in daardie een kan raaksien. Sit dit vir ’n week op ’n plek waar julle gereeld verbyloop en voeg nog eienskappe by, soos die week aangaan. Teen die einde van die week, sê vir Jesus dankie dat hy ons sy broers en suster gemaak het en dat elkeen van ons tekens kan wys dat ons ook God se (aanneem) kinders is.