You are currently viewing 5. Gawes

5. Gawes

  • Post author:
  • Post category:Genade

Gawes is geskenke van God wat deur die Gees aan gelowiges gegee word om hulle toe te rus om mekaar te dien en ‘n verskil te maak in die wêreld. Hierdie gawes kan talente of natuurlike eienskappe insluit of sterkpunte wees wat oor tyd ontwikkel. Jou voorkeure en ervarings kan ook jou gawes vorm. Sommige gawes lyk in vandag se tyd meer alledaags soos gasvryheid of diensbaarheid en ander voel vir ons meer besonders of uitsonderlik soos profesie en praat in tale. Maar elke gawe is ewe belangrik en geen gawe kan uit eie verdienste verkry word nie.

Die gebeure in die boek Korintiërs wys vir ons op die gevare van die misbruik van gawes soos wanneer ons dit ‘n teken wil maak van mense se “geesvervuldheid” of as die gebruik daarvan verdeeldheid bring. Maar die teks herinner ons ook aan die krag van gawes, wanneer ons dit in liefde gebruik om mekaar te bemoedig en te versterk. Die maklikste manier om jou gawes te “ontdek” is om eenvoudig diensbaar te raak!


Delf Dieper — Sola Gratia: Gawes

— Helgard Pretorius

Lees meer:


Luister: Rigters 4: 1-10

Debora

1Na Ehud se dood het die Israeliete weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. 2Die Here het hulle oorgegee in die mag van koning Jabin van Kanaän wat in Hasor geregeer het. Sisera uit Garoset-Gojim was die hoof van Jabin se weermag.

3Hy het nege honderd ysterstrydwaens gehad en hy het die Israeliete twintig jaar lank verdruk.

Daarom het hulle tot die Here geroep om hulp. 4In daardie tyd was Debora, die vrou van Lappidot, die leier van die Israeliete. Sy was ‘n profetes. 5Sy het altyd onder die Deborapalm in die Efraimsberge tussen Rama en Bet-El gesit, en die Israeliete het daarheen gekom sodat sy hulle geskille kon bylê. 6Sy het vir Barak seun van Abinoam uit Kedes in Naftali laat roep en vir hom gesê: “Die Here die God van Israel beveel jou: Trek met tien duisend man uit Naftali en Sebulon op na Taborberg toe.7Ek sal vir Sisera, die hoof van Jabin se leër, met sy strydwaens en sy leër na jou toe laat optrek tot by Kisonspruit en Ek sal hulle in jou mag oorgee.”

 8Barak het haar geantwoord: “As u saamgaan, sal ek optrek, maar as u nie saamgaan nie, gaan ek nie.” 9Sy het vir hom gesê: “Goed, ek sal saamgaan, maar jy sal nie die eer vir die veldtog kry nie: die Here sal vir Sisera aan ‘n vrou uitlewer.” Toe het Debora klaargemaak en saam met Barak na Kedes toe gegaan.10Barak het vir Sebulon en Naftali daarheen ontbied. Tien duisend man het vir Barak gevolg, en Debora het saam met hom opgetrek. 

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Dit is uitsonderlik om ‘n vroue leier (rigter), profetes en bevelvoerder van Israel te ontmoet. Wat sê haar verhaal vir jou?
  • Watter gawes het Debora? Kan jy aan iemand dink wat ook hierdie gawes het?
  • Dink jy ‘n mens kan verskillende gawes in verskillende omstandighede hê?
  • Vertel van ‘n geleentheid waar jy iemand bemoedig het of met wysheid bedien het.

Doen:

  • Oefen om na mekaar te luister. Laat iemand vir jou vertel van ‘n uitdaging wat hulle tans beleef. Probeer om empaties te luister, die woorde te eggo, en daaroor te reflekteer sonder om antwoorde te gee. Ruil om. Deel dan met mekaar hoe jy die oefening beleef het.

Bid:

  • Skryf al die mense neer wat soms na jou toe kom om te gesels oor hul uitdagings, geskille en vrae. Vra God om jou wysheid te gee oor wanneer en hoe om raad te gee. Skryf ook al die mense neer na wie jy toe gaan vir wysheid. Bid vir elkeen op hul naam.

Tiener-fokus:

  • Kyk of jy ‘n reuse lang lys van gawes kan maak. Gebruik tekste soos 1 Korintiërs 12:1-11, Romeine 12:4-8, Efesiërs 4:11-13, 1 Petrus 4:8-11, Eksodus 28:1-3,11 en Eksodus 31:1-6. Dink ook aan mense in die Bybel en watter van hulle eienskappe God gebruik het. Kyk of jy meer as 50 gawes op jou lys kan kry. Vra vir iemand om die gawes op jou lys te omkring wat hul tans in jou lewe raaksien. 

Familie-fokus:

  • Maak ‘n palmboom uit karton vir elkeen in die gesin. Skryf elkeen se naam op die stam en dink saam oor elke lid se talente, gawes en eienskappe en skryf dit op die blare. Dit kan oor tyd aangevul word. Sê vir God dankie dat elkeen uniek en spesiaal is.