You are currently viewing 3. Gebed

3. Gebed

  • Post author:
  • Post category:Geloof

Gebed is ‘n belangrike deel van ons geloof omdat ons glo dat die Here ‘n God is wat in ‘n verhoudings met ons is. Gebed is die manier waarop ons met God kommunikeer. God tree in verhouding met die skepping en met elke persoon om God se liefde uit te deel. Ons bid omdat die Here nie afwesig is nie, maar teenwoordig is, en boonop dat God met ons elkeen handel nes ons is. Deur te bid, erken ons dat ons heeltemal afhanklik van die Here in ons daaglikse lewens is. As ons bid, vra ons nie net vir wat ons wil hê nie, maar ons bid ook dat die Here se Naam geheilig word en dat die Here se koninkryk sal kom. Ons vra ook dat God se wil (en nie ons wil nie), sal geskied in die hier en nou. Gebed is ook ‘n manier om sonde te bely, God te prys en vir ander mense in te tree.

Luister: Handelinge 16:16–40

In die tronk in Filippi

16Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ons ’n slavin teëgekom in wie daar ’n waarsêersgees was. Deur waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld verdien. 17Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word.”

18Sy het dit baie dae na mekaar gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!”

Die gees het op daardie selfde oomblik uit haar uitgegaan.

19Toe haar eienaars sien dat sy nie meer geld vir hulle kan inbring nie, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die owerheid toe op die stadsplein gesleep. 20Hulle het hulle voor die stadsbestuur gebring en gesê: “Hierdie mense is Jode wat moeilikheid maak in ons stad. 21Hulle wil vir ons gebruike leer wat ons as Romeine nie kan aanvaar of navolg nie.”

22Die skare het ook teen hulle gekant geraak. Die stadsbestuur het toe hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle lyfstraf moet kry. 23Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. 24Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem.

25Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. 26Skielik kom daar ’n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak. 27Die bewaarder het wakker geskrik, en toe hy die deure van die tronk sien oopstaan, het hy sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring, want hy het gedink die gevangenes het ontsnap. 28Maar Paulus het baie hard vir hom geskreeu: “Moenie jouself doodmaak nie! Ons is nog almal hier.”

29Toe het die bewaarder ’n lig gevra, die sel ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. 30Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?”

31Hulle antwoord hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

32Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig. 33Op daardie uur van die nag het hy vir Paulus en Silas geneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop. 34Toe bring hy hulle na sy huis toe en sit vir hulle ’n ete voor. Hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het.

35Die volgende môre het die stadsbestuur polisie gestuur met die boodskap: “Laat daardie mense los.”

36Die bewaarder het toe die boodskap aan Paulus oorgedra en gesê: “Die stadsbestuur het laat weet dat julle losgelaat moet word. Julle kan nou gaan, en voorspoed op julle reis!”

37Maar Paulus sê vir die polisie: “Ons is sonder verhoor in die openbaar geslaan en in die tronk gestop, ons wat Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons stilletjies hier wegkry. O nee! Laat hulle self kom en ons uitlei.”

38Die polisie het dit toe vir die stadsbestuur gaan vertel. Dié het groot geskrik toe hulle hoor dit is Romeinse burgers. 39Hulle het gegaan en om verskoning gevra, hulle uit die tronk uitgelei en hulle versoek om die stad te verlaat.

40Nadat hulle uit die tronk gekom het, is hulle na Lidia se huis toe, waar hulle die gelowiges gesien en bemoedig het. Daarna het Paulus-hulle vertrek.

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Hoekom het Paulus en Silas God geprys in hulle omstandighede?
  • Hoe sou jy voel as jy, soos Paulus en Silas, in die tronk toegesluit was bloot omdat jy iemand gehelp het? Sou jy God geprys het?
  • Kan ons God se wil verander deur te bid?
  • Wat is die doel van gebed?
  • Hoe moet ons bid, al gaan dit hoe sleg of hoe goed?

Doen:

  • Maak ’n gebedslysie wat net uit dankgebede bestaan. Gebruik dit as ’n riglyn vir jou volgende week of twee se gebede.
  • Neem die koerant en bid deur die hooftrekke daarvan.

Bid:

  • Dankie Here dat U vir my wys U is…
  • Ek bid dat U wil sal geskied in…

Tiener-fokus:

  • Stel ‘n alarm op jou foon vir ‘n paar tye in die loop van die dag en probeer om elke keer as dit afgaan te bid. Doen dit vir ‘n week. Hoe beïnvloed dit jou om deurlopend in die dag met God te gesels?

Familie-fokus:

  • Maak saam ‘n eenvoudige liedjie op, op ‘n maklike of bekende wysie, wat julle kan sing beide as dinge goed gaan en as dinge sleg gaan.