You are currently viewing 5. Ek Glo in God die Skepper

5. Ek Glo in God die Skepper

Wanneer ons die Apostoliese Geloofsbelydenis sê, is ʼn baie groot deel daarvan die skepping van die heelal en die aarde. Ons bely dat God die Skepper van alles en almal is en dat God die beginpunt van die skepping is. Dit beteken dat God altyd teenwoordig is en die skepping, wat ons met ʼn bepaalde verantwoordelikheid laat.

Ysbreker – Frankenstein:

  • Bou saam as groep enige karakter (mannetjie/vroutjie) met die volgende materiaal: vuurhoutjies, klei, stokkies, gras, blare en takke.

Gesels saam:

  • Verduidelik vir mekaar wie die karakter is (Hoe lyk hy/sy? Watter eienskappe het hy/sy; die storie agter die karakter, huis, sy familie, ensovoorts).
  • Wat maak die karakter gelukkig? Wat maak die karakter hartseer?
  • Wat is jou toekomsdrome vir die karakter?
  • Wat sou jou karakter vir jou wou sê?

Luister: Genesis 2:4b-9;

Die mens in die tuin

Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, 5was daar nog nie enige struike op die aarde nie en het daar ook nog nie enige groenigheid opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie op die aarde laat reën nie, en daar was nog nie ‘n mens om die grond te bewerk nie. 6Daar het water uit die aarde uit opgekom en al die grond nat gemaak. 7Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende wese geword het.

8Die Here God het toe ‘n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon. 9Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis.

15Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. 16Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”

18Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”

19Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees.

20Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie ‘n helper, ‘n gelyke, gekry nie. 21Toe het die Here God ‘n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe ‘n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, 22en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ‘n vrou en bring haar na die mens toe.

23Toe sê die mens:

“Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek.

Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.”

24Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.

Dink:

  • Wat beteken dit dat God ons gevorm het uit stof?
  • God het sy asem in jou geblaas vir lewe – wat beteken dit vir jou?
  • God stel ons aan ons bewaarders van die skepping waarvan ons self deel is. Op watter maniere kan ons die skepping versorg?

Doen:

  • Gaan iewers in die natuur – na die see, ʼn woud, ʼn veld, of sommer net na julle agtertuin. Sit vir ʼn paar minute stil met julle oë toe en luister na die natuur. Wat hoor jy by God waar jy nou is?

Bid:

  • Dankie, Here, dat U ons deel gemaak het van die skepping. Help ons om dit so te versorg soos wat U bedoel het. Vergewe ons vir die tye wanneer ons dit misbruik en vergeet dat dit so ʼn heilige spasie is waarbinne U heeltyd beweeg.

Tiener-fokus:

  • Maak ʼn plan saam met jou gesin of vriende om te herwin of rommel te begin versamel vir EcoBricks. Indien julle nie weet wat dit is nie, gaan doen navorsing op Google daaroor en maak saam ʼn plan om soveel as moontlik saam te stel.

Familie-fokus:

  • Gaan hou saam piekniek iewers in die natuur. Kyk op hoeveel plekke julle God kan vind binne die natuur. Neem foto’s of ʼn video of video’s daarvan.