You are currently viewing 1. Inspirasie van die Bybel

1. Inspirasie van die Bybel

  • Post author:
  • Post category:Bybel

Ons glo dat die Bybel die maatstaf is waarmee ons ons lewe meet. Die Bybel is deur baie skrywers oor ‘n lang tydperk geskryf in die antieke tyd. Die Bybel is ‘n versameling verhale en geskrifte wat oor baie jare tot stand gekom het en wat vertel van hoe God met mense op reis is. Ons glo dat God in die afspeel van die storie, die oorvertel daarvan, die skryf daarvan en die oordrag en vertaling daarvan betrokke was deur Sy Gees. Ons glo dat God steeds vandag vir ons in die lees van die Bybel inspireer en ons help om die storielyn te verstaan en die beginsels daaruit vandag toe te pas. 


Delf Dieper: Die Woord

— Coenie Burger

Lees meer:


Luister: Esegiël 2: 9 – 3:3

Die opdrag aan Esegiël

9Toe sien ek daar is ‘n hand na my toe uitgesteek, en in die hand was ‘n boekrol. 10Die hand het die boekrol voor my oopgerol. Dit was aan albei kante volgeskryf, en wat daarop geskryf was, was klaagliedere, treurliedere en smartroepe.

3 1Die stem het vir my gesê: “Mens, eet wat voor jou is, eet hierdie boekrol en gaan praat met die mense van Israel.”

2Ek het my mond oopgemaak, en die Here het my die boekrol laat eet. 3Hy het vir my gesê: “Mens, eet die boekrol wat Ek jou gee, eet jou vol.” Ek het dit geëet, en dit was soet soos heuning in my mond.

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Hoe is die Bybel vir jou anders as ander boeke?
  • Hoekom moes Esegiël die boekrol eet? Waarvan is dit ‘n simbool?
  • Hoe kan ons die woord van God “eet”?
  • Dink aan ‘n keer toe jy die woord gelees het en dit jou geïnspireer het?

Doen:

  • Soek iemand met wie jy kan gesels oor uitdagende gedeeltes in die Bybel.

Bid:

  • Here, maak die Bybel vir my so soet soos heuning, sodat dit my lewe voortdurend kan verander.

Tiener fokus:

  • Laai die Bybel op jou foon af en lees elke dag ‘n gedeelte.

Hier is ‘n paar apps wat jy kan aflaai. Die Afrikaanse Bybel is op beide beskikbaar: youversion.com of m.bibles.co.za.

Familie fokus:

  • Laat elke lid van die familie ‘n gunsteling teks kies en plak dit op in die huis. Die uitdaging is dat almal een nuwe teks leer voor die einde van die week.