Alle mense glo. In die vorige tema het ons gesien dat ons oortuigings en ons geloof is ook ons manier van sin maak van lewe. Ons glo in God en dat God die begin van alles is. Ons glo dat God oral is, ewig is, Drie-Enig is en nog baie ander dinge. Sommige goed oor wat ons glo kan ons maklik verduidelik, maar ander dinge glo ons maar net – ons sê net dit is so, want dis wat ons glo – ons kan dit nie lekker verduidelik nie, maar dit help ons om onsself, ander mense en die wêreld te verstaan. Alles gaan oor God. God is die begin en die einde. God is ons middel, maar ook rondom ons. God is groter as als, maar ook by elkeen van ons. Al verstaan ek dit nie, kan ek sê “Ek glo in God.”
Vertel:
- Vertel vir mekaar van iets wat jy of jou familie by jou voorgeslagte geërf het, wat kenmerkend is of waarop jy trots is. Dit kan ‘n ding wees of ‘n eienskap aan jou lyf wees (bv. Oë/ haarkleur/ bakbene.)
- Iemand vertel dat geloof die krag is wat kom uit goed wat reeds gebeur het. (Hoop is die krag wat ons kry uit God se beloftes vir die toekoms; liefde is die krag waarmee ons nou in die wêreld betrokke is. In die teks stel God homself voor as die God van die verlede
Luister: Eksodus 3:1-22
God openbaar Hom aan Moses
1Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, ‘n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het.
2Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ‘n vlam binne-in ‘n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. 3En Moses sê vir homself: “Ek wil tog ‘n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?”
4Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!”
En hy antwoord: “Hier is ek.”
5Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” 6Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.”
Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk.
7Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. 8Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. 9Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. 10Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.”
11Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?”
12God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.”
13Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?”
14Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”
15Verder sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag.
16“Gaan roep nou die leiers van Israel bymekaar en sê vir hulle: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan my verskyn en gesê: Ek weet van julle en Ek weet ook wat julle aangedoen word in Egipte. 17Ek het besluit om julle te laat wegtrek uit die ellende van Egipte na die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning.’
18“Die leiers van Israel sal na jou luister, en dan moet jy en hulle na die Egiptiese koning toe gaan en vir hom sê: ‘Die Here die God van die Hebreërs het Hom aan ons geopenbaar. Laat ons asseblief drie dagreise ver die woestyn in trek om vir ons God, die Here, ‘n offer te bring.’
19“Ek weet dat die Egiptiese koning julle nie sal laat gaan nie, selfs nie onder dwang nie. 20Dan sal Ek my hand uitsteek en Egipte teister met die wonderdade wat Ek in hom sal doen. Eers daarna sal die farao julle laat gaan. 21Ek sal ook sorg dat die Egiptenaars goed doen aan hierdie volk van My, sodat, as julle uiteindelik wegtrek, julle nie met leë hande sal gaan nie. 22Elke vrou moet van haar buurvrou of in die huis waar sy werk, silwer- en goue goed sowel as klere eis. Laat julle seuns en dogters dit dan as buit uit Egipte uit wegdra.”
Dink:
- Plaas jouself in Moses se sandale. Wat sou deur jou gedagtes gegaan het as jy die brandende bos gesien het?
- Hoekom het jy (Moses) jou gesig weggesteek toe God met jou begin praat?
- Watter eienskappe sien jy van God raak?
- In Moses se wêreld het ’n naam ’n statement gemaak oor daai persoon. Watter soort statement maak God wanneer God vir Moses sy naam sê?
Doen:
- Skryf ’n paar name neer wat statements maak oor God, met ander woorde, name wat jy vir God kan gebruik.
Bid:
- Jesus leer ons bid deur vir God “Ons Vader” te noem. Gebruik van jou statements as byvoeglike naamwoorde saam met Vader om in gebed met God te praat.
Tiener fokus:
- Gaan soek op die internet die verskillende name van God en maak ’n lys van die verskillende eienskappe van God wat hierdie name alles probeer vasvang.
Familie fokus:
- Vra vir die volwassenes in jou huis om vir jou ’n storie te vertel van ’n “brandende bos” ervaring – ’n ervaring waardeur God hulle aandag getrek het.