Gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid begin meestal in ons gedagtes. Die maniere waarop ons oor die lewe dink, is die beginpunt van wat ons doen. Gehoorsaamheid aan God lyk dikwels anders as die manier waarop mense om ons leef. Dit vra dus dikwels dat ons ‘n keuse moet maak om anders op te tree. Daarom moet ons eers luister na God en die Bybel om te weet wat God van ons vra. Die woordspeling in die woord gehoorsaam (“gehoor” en “saam”) help ons hiermee. Ons moet eers God “hoor” en dan “saam” met die Heilige Gees dit doen. Gehoorsaamheid is nie ‘n voorwaarde om God se genade te verdien nie, maar is ‘n spontane reaksie of keuse in antwoord tot God se liefde.
Delf Dieper: Gehoorsaamheid
— Marnus Havenga
Lees meer:
Luister: 2 Konings 5:1-14
Naäman word genees van melaatsheid
1Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was ‘n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here ‘n oorwinning aan Aram besorg. Die man was ‘n dapper soldaat, maar hy het melaats geword.
2Op een van hulle strooptogte het die Arameërs ‘n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. 3Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.”
4Naäman het by die koning gekom en hom meegedeel wat die dogtertjie uit Israel gesê het.
5“Gaan gerus,” het die koning van Aram gesê, “ek stuur jou met ‘n brief na die koning van Israel toe.”
Hy het vertrek en drie honderd twee en veertig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere met hom saamgevat. 6Hy het die brief na die koning van Israel toe gebring. Dit het só gelui: “Ek het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.”
7Toe die koning die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my.”
8Elisa die man van God het te hore gekom dat die koning van Israel sy klere geskeur het en het ‘n boodskap aan die koning gestuur: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar ‘n profeet in Israel is.”
9Toe Naäman met sy wa en perde daar aankom, het hy stilgehou voor die deur van Elisa se huis. 10Elisa het ‘n boodskap na hom toe gestuur: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees.”
11Naäman het vererg weggery en gesê: “Ek het darem gedink hy sou uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem. 12Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?”
So het hy woedend daarvandaan teruggery.
13Sy amptenare het by hom gekom en mooi met hom gepraat: “Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?”
14Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van ‘n klein seuntjie en hy was weer rein.
Kyk:
- Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
- Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
- Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?
Dink:
- Wat verras jou in hierdie verhaal?
- Met watter emosie in die storie kan jy jouself vereenselwig?
- Wat moes Naäman gedoen het om gesond te word?
- Wat het hom gekeer om dit te doen?
- Kan jy dink aan ooreenkomste tussen ons optrede en dié van Naäman?
- Hoe kan jy dit wat jy “hoor” in die storie vandag, leef “saam” met die Heilige Gees?
Doen:
- Om gehoorsaam te wees moet ons kan luister. Hoe goed luister jy? Wanneer iemand iets vir jou sê vandag, vra: “Hoor ek jou reg as jy sê…” en herhaal wat gesê is in jou eie woorde om dit te toets.
Bid:
- Lees die teks weer stadig deur. Wag en kyk of daar iets vir jou uitstaan. Wanneer iets uitstaan, vra vir die Heilige Gees wat jy daaruit moet hoor.
Tiener-fokus:
Doen die “daaglikse nadenke” oefening uit die vroeë christelike kerk. Jy kan dit alleen doen of saam met ander. Neem ’n paar oomblikke en dink terug oor die dag. Dink na oor die volgende vrae:
- Waar het God vandag met jou gepraat? Waar het God raakgesien?
- Waar het jy iets gesien of gedoen wat jy dink God nie van gehou het nie?
Familie-fokus:
- Gaan sit vir ‘n paar minute op ’n stillerige plek in ‘n tuin. Maak seker almal se fone, musiek en die televisie is af. Luister na alles wat gebeur. Watter geluide kan julle alles hoor? Wat sê dit vir julle oor alles wat in jou omgewing aangaan? Deel met mekaar hoe elkeen die stilte ervaar het.