Baie mense dink onmiddellik aan ‘n kerkgebou wanneer hulle die woord kerk hoor. Of hulle dink aan ‘n erediens. Ons sê mos altyd: “Ons gaan kerk toe”, bedoelende ons gaan die erediens bywoon. Ander dink weer dalk net aan hulle eie gemeente en haar werksaamhede as hulle die woord kerk hoor. Dit is alles gestaltes van die kerk, maar die woord kerk impliseer baie meer as ‘n struktuur waarbinne mense ‘n klompie reëls moet volg. Met kerk word bedoel ‘n groepering mense wat besef dat ménse God se plan was om God se koninkryk sigbaar te maak in hierdie wêreld. Waar mense dus bymekaar kom om te bid, mekaar te leer, saam om ‘n tafel eet – daar is die kerk bymekaar. Jou gemeente is natuurlik kerk, maar jy is ook die kerk daar waar jy jou getuienis uitleef by die skool of werk of by die huis met kinders. Kerk impliseer ook gemeenskap. Paul Tournier sê juis: “There are two things we cannot do alone – one is to be married and the other is to be a Christian.” Kerk is daar waar jy saam met ander mense jou oë na die bron van die Kerk draai, nl. Jesus Christus.
Delf Dieper: Kerk
— Piet Naudé
Lees meer:
Luister: Handelinge 2:43-47
Die eerste gemeente
42Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. 43Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.
Kyk:
- Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
- Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
- Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?
Dink:
- Dink jou bietjie in hoe die byeenkoms gelyk het van die eerste gemeente soos ons daarvan lees in Handelinge. Wat verras jou?
- Met watter aktiwiteite het hierdie eerste gemeente hulle besig gehou? Hoe lyk dit anders as wanneer jou gemeente vandag bymekaar kom? Hoe lyk dit soortgelyk?
- Vertel van ‘n keer toe jy by mense saam om ‘n tafel gesit en eet het en spontaan oor die Here gesels het.
- Wat kan jy as die kerk doen om jou gemeente te help om meer gasvry, biddend en diensbaar te wees?
Doen:
- Vandag kan jy dalk iets weggee vir iemand wat dit meer nodig het as jy – op hierdie manier is jy kerk.
Bid:
- Here, ek weet die kerk is U plan om die wêreld ‘n beter plek te maak. Help my om ook my rol as kerk op te neem deur….
Tiener-fokus:
- Kry nog ‘n maat of twee en vra die dominee by jou gemeente of julle nie Sondag die verwelkoming by die deure kan doen nie?
Familie-fokus:
- Nooi nog ‘n familie na julle huis toe. Dek ‘n mooi, eenvoudige tafel en julle kan lekker broodjies eet en water drink. Terwyl julle aan tafel is, gee elkeen aan die tafel die geleentheid om iets te vertel van hulle belewenis van God in die afgelope week. Gee die oudste persoon aan die tafel die geleentheid om vir julle ‘n gedeelte uit die Bybel te lees. Elkeen om die tafel kry geleentheid om een dankie-sê sinnetjie te bid.