You are currently viewing 2. Keuses

2. Keuses

  • Post author:
  • Post category:Eer van God

“Jy maak keuses en dan maak jou keuses jou.” Ons staan elke dag voor honderde keuses en die keuses wat ons maak het ‘n groot impak op ons lewe. ‘n Mens moet daarom mooi dink oor sommige keuses in jou lewe. Sommige keuses kan jou lewe ontspoor. Goeie keuses kan jou in ‘n positiewe rigting stuur. Om die Here te kies, of nie, is ‘n keuse wat dikwels in die Bybel gestel word. Hierdie keuse het ook ‘n groot invloed op die res van jou lewe. Dit bepaal die vertekpunt van baie ander besluite in jou lewe. As jy bv. vir die Here gekies het, behoort dit ‘n invloed te hê op jou keuses van vriende, geld, jou tydsbesteding, ens.

Dit is ook belangrik om te onthou dat die Here elke dag kies om die pad saam met jou te loop en getrou aan jou te bly.

Luister: Daniël 3:1-30  

Daniël se drie vriende

 1Koning Nebukadnesar het ‘n goue beeld laat maak, dertig meter hoog en drie meter breed, en dit laat oprig in die Duradal in die provinsie Babel. 2Toe het hy opdrag gegee dat al sy amptenare, die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs, die raadgewers, die tesourieamptenare, die regters, die landdroste, al die hoofamptenare van die provinsie, bymekaar moes kom vir die wyding van die beeld wat die koning laat oprig het. 3So het al die hoë amptenare, die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs, die raadgewers, die tesourieamptenare, die regters, die landdroste, al die hoofamptenare van die provinsie, bymekaargekom vir die wyding van die beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig het en hulle het voor die beeld gaan staan.

4′n Aankondiger het hard geroep: “Alle volke, nasies en taalgroepe, julle word beveel: 5Wanneer julle die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, ‘n ander blaas- of musiekinstrument, moet julle buig voor die goue beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig het, en dit aanbid. 6Wie nie buig en die beeld aanbid nie, sal onmiddellik in ‘n brandende oond gegooi word.” 7Daarom het al die volke, nasies en taalgroepe, sodra hulle die geluid van trompet, fluit, siter, lier, harp of enige ander musiekinstrument hoor, voor die goue beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig het, gebuig en dit aanbid. 

8Dit was toe dat sekere Galdeërs die Jode gaan verkla het. 9Hulle het vir koning Nebukadnesar gesê: “Mag die koning baie lank lewe! 10U het ‘n bevel uitgevaardig dat enigiemand wat die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, ‘n ander blaas- of musiekinstrument, voor die goue beeld moet buig en dit moet aanbid. 11Wie nie buig en die beeld aanbid nie, moet in ‘n brandende oond gegooi word. 12Maar, U Majesteit, nou is daar Jode, Sadrag, Mesag en Abednego, vir wie u in beheer van die administrasie van die provinsie Babel geplaas het, wat hulle nie steur aan u bevel nie. Hulle dien nie u god nie, hulle aanbid nie die goue beeld wat u laat oprig het nie.” 

13Toe het Nebukadnesar woedend geword en vir Sadrag, Mesag en Abednego laat kom. Dié manne is voor die koning gebring, 14en Nebukadnesar het vir hulle gesê: “Is dit waar, Sadrag, Mesag en Abednego, dat julle my god nie dien nie, die goue beeld wat ek laat oprig het, nie aanbid nie? 15Nou kyk, dit sal in orde wees as julle bereid is om te buig en die beeld te aanbid sodra julle die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, ‘n ander blaas- of musiekinstrument. Maar as julle hom nie aanbid nie, sal julle dadelik in ‘n brandende oond gegooi word, en watter god sal julle uit my mag kan red?”

16Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: “Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. 17Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. 18Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”

19Toe het Nebukadnesar wit geword van woede vir Sadrag, Mesag en Abednego en opdrag gegee dat die oond sewe maal warmer gemaak moet word as gewoonlik. 20Daarna het hy van die sterkste manne in sy lyfwag beveel om vir Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die brandende oond te gooi. 21Hulle is toe vasgebind en sommer met hulle hemde, broeke en kopdoeke, met al hulle klere, in die brandende oond gegooi. 22Omdat die koning se opdrag so streng was, was die oond so verskriklik warm dat die manne wat vir Sadrag, Mesag en Abednego moes ingooi, deur die vlamme doodgebrand is. 23Maar die drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het vasgebind binne-in die brandende oond geval.

24Toe het koning Nebukadnesar verskrik opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Het ons dan nie drie manne vasgebind in die oond gegooi nie?” En hulle sê vir hom: “Dit is so, U Majesteit!” 25Hy sê toe: “Maar ek sien dan vier manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos ‘n hemelwese!” 26Toe het Nebukadnesar na die bek van die brandende oond toe gekom en geroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, dienaars van die allerhoogste God, kom uit hierheen!” En Sadrag, Mesag en Abednego het uit die oond uitgekom.

27Toe die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs en die raadgewers van die koning nader kom, sien hulle aan die manne dat die vuur niks aan hulle liggame kon doen nie, dat hulle hare op hulle koppe nie eens geskroei was nie en dat hulle klere niks makeer nie; jy kon nie eens ruik dat hulle in die vuur was nie.

28Toe sê Nebukadnesar: “Aan die God van Sadrag, Mesag en Abednego kom die eer toe, Hy wat sy engel gestuur het en sy dienaars gered het. Hulle het op hulle God vertrou en het die koninklike bevel verontagsaam en hulle was bereid om hulle lewe te verloor eerder as om enige god behalwe húlle God te dien of te aanbid. 29Daarom vaardig ek ‘n bevel uit dat enige persoon, van watter volk, nasie of taalgroep hy ook is, wat met minagting praat oor die God van Sadrag, Mesag en Abednego, in stukke gekap moet word en dat sy huis ‘n puinhoop gemaak moet word. Daar is immers geen ander god wat in staat is om so te red nie.”

30Die koning het toe gesorg dat dit voorspoedig gaan met Sadrag, Mesag en Abednego in die provinsie Babel.

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Hierdie is die bekende verhaal van drie mense wat voor die keuse gestaan het of hulle hul God gaan verraai deur voor ‘n ander beeld te buig. Dink aan ‘n geleentheid toe jy ‘n keuse moes maak om óf jou geloof te bely óf stil te bly.
  • Watter dinge in vandag se lewe maak dit soms vir ons moeilik om vír die regte saak te kies?
  • Kan jy dink aan ‘n keer toe ‘n keuse wat jy gemaak het vir jou goed uitgewerk het? Wat het jou gehelp om ‘n goeie keuse te maak?
  • Kan jy dink aan ‘n keer toe ‘n keuse van jou nie lekker uitgewerk het nie? Watter gevolge het dit meegebring?

Doen:

  • Kies vandag om ‘n ander roete skool toe of werk toe te ry of ‘n ander oggend roetine te volg. Wat sien jy anders raak? 

Bid:

  • Watter keuses lê swaar op jou tafel tans? Neem tyd om rustig met God daaroor te gesels.

Tiener-fokus:

  • Praat vandag met iemand oor ‘n keuse wat jy moet maak. Moenie voel jy is alleen verantwoordelik om jou keuses uit te oefen nie. God het mense vir mekaar gegee om mekaar te help met keuses.

Familie-fokus:

  • Maak tien kaartjies wat elk twee keuses op het. Elke aand kan iemand in die familie ‘n kaartjie kies en een van die opsies op die kaartjies kies. Op die kaartjies kan goed staan soos bv. “Ek sal vanaand jou rug vir vyf minute krap,” óf: “Ek sal die skottelgoed was,” óf: “Ek sal môre jou skoolbroodjies maak,” óf: “Ek sal vir jou tee maak.”