Ons glo in Jesus Christus wat deel is van die Drie-Enige God. Hy is God in mens-vorm en is ook die Seun van God. Jesus het op aarde gewoon om vir ons te wys dat Hy deel is van ons wêreld. Hy het aarde toe gekom om vir ons God se genade te verduidelik en om as ‘n voorbeeld vir ons te leef. Hy moes mens word om God se Koninkryk vir ons sigbaar te maak en ook sodat Hy ons kan leer hoe om as Sy dissipels (volgelinge) te leef.
Delf Dieper: Jesus Christus
—Piet Naudé
Lees meer:
Luister: Lukas 2:8-20
Die skaapwagters en die engele
8Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. 9Meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. 10Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. 11Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! 12En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.”
13Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê:
14“Eer aan God in die hoogste hemel,
en vrede op aarde
vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”
15Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.” 16Hulle gaan toe haastig daarheen en kry vir Maria en Josef, en die Kindjie wat in die krip lê. 17Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. 18Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het. 19Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink. 20Die skaapwagters het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit was alles net soos dit vir hulle gesê is.
Kyk:
- Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
- Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
- Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?
Dink:
- Hoekom sluit die manier waarop Jesus mens geword het arm skaapwagters, ‘n eenvoudige stal en jong ouers in?
- In vers 11 noem die engel vir Jesus: “Die Verlosser” en “Christus, die Here”. Wat beteken hierdie 2 titels vir jou?
- Omkring al die emosie-woorde in verse 8-14. Watter van hierdie woorde beskryf jou lewenservaring tans? Wat beteken dit vir jou dat Jesus mens geword het en jou emosies verstaan?
- Watter werkwoorde word gebruik in verse 15-20? Watter wenke gee dit vir jou oor hoe Jesus jou lewe kan vorm?
- Watter beeld sal jy gebruik om aan iemand te verduidelik dat Jesus terselfdertyd mens én God was op aarde?
Doen:
- Die wonder van Jesus se geboorte is iets wat ons dikwels slegs oor Kersfees vier. Speel ‘n Kersfees CD, sing ‘n paar Kersliedere of hou ‘n kersete om te onthou dat ons elke dag Jesus se menswording moet vier.
Bid:
- Staan onder die sterre (soos die skaapwagters) en deel al jou menslike emosies met Jesus.
Tiener-fokus:
- Skryf ‘n gedig of ‘n lied oor wat hierdie teksgedeelte en Jesus se menswording vir jou beteken.
- Kyk op die internet watter ander titels en metafore Jesus beskryf.
Familie-fokus:
- Maak lekkergoed skapies uit malvalekkers (kyk gerus op die internet vir idees). Gaan gee vir iemand hierdie skapie en vertel vir hulle van hoe die skaapwagters eerste gehoor het van Jesus wat gebore is.
- Speel die verhaal van die skaapwagters en engele deur ‘n vuurtjie buite te maak en vir die sterre te kyk. Gesels wees oor die storie en wat dit beteken.