You are currently viewing 2. Ek glo aan een HEILIGE algemene Christelike kerk

2. Ek glo aan een HEILIGE algemene Christelike kerk

As ons bely dat ons deel is van Een Heilige Algemene Christelike kerk moet ons ernstig wees oor hoe ons deel is van die groter prentjie. Ons is nie die enigste kerk in ons omgewing wat die boodskap van Jesus uitleef nie. Inteendeel, as ons nie ons eenheid besef nie gaan mense ons getuienis nie glo nie.

Vertel:

  • Vertel van ‘n keer wat jy in ‘n diens van ‘n ander soort kerk denominasie (bv. Rooms-Katoliek, Angikaans, Lutheraans, A.G.S.) bygewoon het?

Luister: 1 Korintiërs 12:12-27

Een Ligaaam met baie lede

Net soos die liggaam ‘n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk. Die liggaam bestaan ook nie net uit een lid nie, maar uit baie. As die voet sou sê: “Omdat ek nie ‘n hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede tog nie op om deel van die liggaam te wees nie. En as die oor sou sê: “Omdat ek nie ‘n oog is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede eweneens nie op om deel van die liggaam te wees nie. As die hele liggaam oog was, hoe sou hy kon hoor? En as die hele liggaam oor was, hoe sou hy kon ruik? Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê. As almal saam net een lid was, hoe sou daar ‘n liggaam kon wees? Nou is daar wel baie lede maar net een liggaam. Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan weer nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.” Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakste voorkom, is juis noodsaaklik, en dié wat vir ons minder mooi lyk, klee ons met groter sorg. So word ons minder aansienlike dele besonder mooi gemaak, terwyl die aantreklike dele dit nie nodig het nie. God het die liggaam so saamgestel dat Hy groter eer gegee het aan die lid wat eer kortkom, sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra. As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan.

Dink:

  • Hoe dink jy help die “prentjie” van ‘n liggaam ons om verskillende kerke en denominasies te verstaan?
  • Waarmee is jou gemeente goed en waarmee dink jy is ander gemeentes goed?
  • Hoe praat jy en jou familie oor die eenheid van die kerk – glo jy dat Rooms Katolieke, Anglikane, Protestante en Charismate deel vorm van een Liggaam van Christus.

Doen:

  • Reik uit na ander gelowiges en gesels met hom/haar oor hul belewenis van een kerk wees – besoek hul erediens of gemeente

Bid:

  • Bid saam met ander gelowiges wat in ‘n ander gemeente is oor die eenheid tussen alle Christene en hoe God julle saam wil gebruik om Sy Koninkryk te laat kom waar julle woon.

Tiener fokus:

  • Doen moeite om iemand in jou skool te ontmoet wat deel is van ‘n ander gemeente en praat met hom/haar oor hoe jul as lede van Sy een liggaam ‘n boodskap kan uitleef in die skool.

Familie fokus:

  • Help mekaar om positief te praat oor ander gemeentes deur ‘n ander gesin te ontmoet en hulle by hul gemeente te besoek en hul uit te nooi om weer by jul gemeente te kom kuier.