You are currently viewing 5. Koninkryk

5. Koninkryk

  • Post author:
  • Post category:Eer van God

Die Koninkryk van God kan vergelyk word met ‘n  eko-sisteem. ‘n Mens kan nie ‘n eko-sisteem sien nie, dit beskryf egter iets baie belangrik: die noodsaaklike netwerk of verhouding tussen organismes en hul omgewing. Netso is die Koninkryk mense wat binne God se wil en tot God se eer leef te midde van die gewone wêreld. Die koninkryk van God is nie ‘n sigbare plek nie, maar ‘n onsigbare groeiende werklikheid.


Delf Dieper: Ons glo… in die Koninkryk van God?

Nadia Marais

Lees meer:


Luister: Matteus 13:24-30 en 36-43

Die gelykenis van die onkruid tussen die koring

24Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land gesaai het. 25Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. 26Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. 27Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’ 28Hy antwoord hulle: ‘Dit is ‘n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’ 29‘Nee,’ sê hy, ‘as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. 30Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’ ”

Daarna het Jesus van die mense af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Verduidelik tog vir ons die gelykenis van die onkruid in die land.”

37Jesus antwoord: “Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens. 38Die saailand is die wêreld. Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk; die onkruid is die aanhangers van die Bose; 39die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld; dié wat oes, is die engele. 40“Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. 41Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree,42en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. 43Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son. “Wie ore het, moet luister.”

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Wat vertel die gelykenis van die onkruid tussen die koring vir jou oor die Koninkryk?
  • Hoekom is dit moeilik om tussen die koring en onkruid te onderskei?
  • Hoekom is dit moeilik is om te onderskei tussen mense van die Koninkryk en aanhangers van die bose?
  • Is dit moontlik dat dit wat ons as “onkruid” beskou, nog koring kan word?
  • Hoe help die beeld van ‘n eko-sisteem jou om die Koninkryk anders te verstaan?
  • Watter dinge bedreig God se koninkryk of “eko-sisteem”? Watter dinge bou dit?

Doen

  • Watter dinge bedreig die fisiese eko-sisteme van die wêreld? Hoekom is dit belangrik om vir die omgewing te sorg, te herwin en energie en water te bespaar? Dink aan maniere waarop jy hierdie week dit kan begin doen.

Bid

  • Here, maak my deel van U wêreld, U Koninkryk, U eko-sisteem. Neem my lewe en …

Tiener-fokus

  • Gaan stap ‘n ent in die natuur of sit ‘n rukkie in die tuin. Raak bewus van die natuur se fynste besonderhede om jou. Indien jy nie buite kan sit nie, sit voor ‘n venster en hou die wolke, bome of voëls dop. Dink saam en gesels oor hoe God se koninkryk onsigbaar is en tog oral is.
  • Kyk hoe baie jy hierdie week kan stap in plaas van ry na jou skool, aktiwiteite of vriende.
  • Raak bewus van jou eko-spoor deur ‘n vraelys aanlyn te voltooi deur “carbon footprint calculator” te soek op die internet.

Familie-fokus

  • Plant boontjies in watte of groenteplantjies in die tuin en versorg dit. Gesels saam oor hoe God die natuur versorg en hoe die verskillende dele van die natuur inter-afhanklik is van mekaar. Gesels saam hoe ons geroep is om in harmonie met die aarde en mekaar te lewe.
  • Gebruik herwinbare rommel om iets nuut te maak. Soek op die internet vir idees deur “upcycle home projects” of “upcycle home crafts” in te tik.