You are currently viewing 4. Ek Glo in God die Almagtige

4. Ek Glo in God die Almagtige

Om te sê God is almagtig beteken dat God in alles magtig is. Dit begin by God wat so groot en magtig is dat God die heelal geskep het, dit bymekaar hou en dit bly versorg. Dit is aan die ander kant ook God wat op enige oomblik, op enige plek by elke mens betrokke is, wat elke mens se storie en toekoms ken. God se almag beteken dat God by alles kan betrokke wees, van die groot goed wat te groot vir ons verstand is, tot by die kleinste goed, waaraan ons nie eers dink nie. Niks en niemand is vir God te groot of te klein nie te belangrik of onsinnig nie.

Vertel:

  • Vertel van ’n keer toe jy in ’n moeilike situasie was en alles “uitgewerk” het sonder dat jy iets daaraan kon doen.
  • Dawid skryf in die volgende Psalm dat ons lewenstories nie as verrassings vir God uitspeel nie. Lees dit en dink dan vêrder oor die vrae.

Luister: Psalm 139:1-18

U omsluit my van alle kante

1Vir die koorleier. Van Dawid. ‘n Psalm.

Here, U sien dwarsdeur my,

U ken my.

2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,

U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.

3Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit,

U is met al my paaie goed bekend.

4Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie

of U, Here, weet wat dit gaan wees.

5U omsluit my van alle kante,

U neem my in besit.

6Dié wete oorweldig my,

dit is te hoog vir my begrip.

7Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?

Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?

8Klim ek op na die hemel, is U daar,

gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.

9Vlieg ek na die ooste,

of gaan woon ek in die verre weste,

10ook daar lei u hand my,

hou u regterhand my vas.

11Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek,

of die lig rondom my om in nag te verander,

12maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie

en die nag so lig soos die dag,

duisternis so goed soos lig.

13U het my gevorm,

my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.

14Ek wil U loof,

want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep.

Wat U gedoen het,

vervul my met verwondering.

Dit weet ek seker:

15geen been van my was vir U verborge

toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie,

toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.

16U het my al gesien toe ek nog ongebore was,

al my lewensdae was in u boek opgeskrywe

nog voordat ek gebore is.

17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God,

hoe magtig hulle almal!

18As ek hulle sou wou opnoem –

hulle is meer as wat daar sand is,

en as ek daarmee klaar is,

sou ek nog steeds met U te doen hê.

Dink:

  • Watter stories van Dawid kan jy alles onthou? Hoe kan jy die manier hoe Dawid oor God skryf in hierdie Psalm, in Dawid se stories raaksien?
  • Maak hierdie Psalm op jouself van toepassing: Maak ’n lys van die maniere waarop God jou ken.
  • God se almag lê eerste daarin dat hy elke mens op aarde op hierdie manier ken. Dink aan drie mense oor wie jy bekommerd is – hoe help dit wat jy oor God leer in hierdie Psalm jou om oor jou bekommernis te dink?

Doen:

  • Skryf elke ding waaroor jy bekommerd is op ’n papiertjie, een ding op een papiertjie. Kry ’n bakkie of ’n houer waarin jy al daai dinge kan sit. Vat elke papiertjie en vertel vir God van jou bekommernis. Wanneer jy klaar daaroor gebid het, sit dit in die houertjie. Wanneer jy al jou papiertjies in die houertjie gesit het, herinner jouself dat jy dit nou vir God gegee het en dat dit uit jou hande is. Kom weer aan die einde van die dag en gaan deur die papiertjies. Oor hoeveel daarvan het jy bly bekommer deur die dag? Hoeveel daarvan is steeds ’n bekommernis? Bid weer oor die dinge ’n bekommernis is en sit dit weer in die bakkie – oorgegee aan die almagtige God.

Bid:

  • In jou tyd van gebed, vertel vir God van al jou planne, maar vra vir God om dit by sy planne te laat inpas.
  • Doen ’n paar oomblikke niks en wag hoe God jou verbeelding daarvoor wakker maak.

Tiener fokus: (Arial, 12 point, bold)

  • Henri Nouwen het in ’n artikel “Useless Prayer” die volgende geskryf: “To not be useful is to remind myself that if anything important or fruitful happens through prayer, it is God who achieves the result.”
  • Kies ’n tyd in die dag waar jy saam met God gaan tyd mors – met geen musiek of TV of werk of sosiale media nie. Begin klein, bv. 5 minute.

Familie fokus:

Verder met die storie…

  • Vertel saam ’n storie. Die groepleier begin met enige frase, bv. “Die man met die hond het by die verkeerslig gestaan.” Of “Die meisie het by die venster uitgekyk.” Die volgende persoon moet een sin bylas. Dit kan enige iets wees.
  • Gesels saam oor die volgende:
  • Wie van julle het presies geweet wat die persoon langs jou gaan sê?
  • Hoe was die manier hoe julle storie geëindig het anders of dieselfde as wat jy in jou kop gehad het?
  • Hoe help dit ons dink oor wat God alles met ons storie kan doen?