Die woorde “Jesus Christus, ons Here” het amper alle betekenis verloor in baie kerke en mense se lewens, bloot omdat dit te veel gehoor word, maar dink bietjie na oor die belangrike betekenis daarvan:
Eerstens, die naam “Jesus” beteken: “Die Here red”. Elke keer as ons Jesus se naam sê of hoor, herinner dit ons dat Hy ons red.
Tweedens, die woord “Christus” is nie ’n naam nie, maar ’n titel. Dit is die Griekse weergawe van die Hebreeuse woord: “Messias,” wat beteken: “Die een wat gesalf is.” Daardeur bely ons, elke keer as ons dit sê of hoor, dat Jesus nie net ’n mens was nie, maar die Een is waarvoor die hele wêreld gewag het vir eeue, die enigste Gesalfde wat ons koning, priester en profeet kan wees.
Laastens, die woord “Here” is nie net ’n sinoniem vir Jesus of God nie. Dit is ook ’n titel, iets wat “Meester” of “Baas” beteken. Dus is Jesus nie net ons Redder en Vriend nie, maar ook die Een aan wie ons alle beheer en mag moet oorgee, en die enigste Een wat regeer oor sy wêreld en kerk.
Vertel:
- Speel die ou kinderspeletjie “Simon says”, waarin iemand vir almal dinge sê soos, “Staan op 1 been” of “Sit jou hand op jou kop”, maar die mense wat luister slegs moet doen wat gesê word indien die woorde “Simon says” eers gesê is.
- Nadat die speletjie gespeel is, gesels oor die vraag: “Wie is regtig in beheer van wat ons doen?”
- Indien moontlik, kyk die volgende lied en sing saam: https://www.youtube.com/watch?v=nQWFzMvCfLE
Luister: Matteus 16:16
Die belydenis van Petrus
13Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” 14Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.” 15“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” 16Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”
Dink:
- Waarom, dink jy, was dit vir Jesus belangrik dat sy dissipels geweet het wie Hy is?
- Wat beteken dit vir jou dat Jesus die Christus, of die Messias, is?
- Wat beteken die woord “here” buite die Bybel? En binne die Bybel?
- Wie is Jesus vir jou?
Doen:
- Maak ’n lys van die dele van die lewe wat gewoonlik nie deur ons geloof beïnvloed word nie, bv. werk, skool of ons sosiale lewe. Skryf dan by elke ding hoe dit aan Jesus se beheer oorgegee kan word.
Bid:
- Gee jouself oor aan die Here, die Christus, Jesus. Vra Hom om weer in beheer te wees van die dinge waar Hy dikwels uitgehou word.
Tiener-fokus:
- Verander die agtergrond van jou foon of rekenaar na ’n prent of iets wat sê, “Jesus is in beheer” (of maak ’n mooi stuk papier waarop dit staan). Maak seker jy kan dit sien elke dag. Elke keer as jy dit sien, vra Jesus om beheer te neem van die situasie waarin jy is.
Familie-fokus:
Kry ’n stuk papier en skryf (of druk) die woord “Jesus” daarop. Laat almal in die huis of groep bymekaar kom, en skryf/teken dan om die woord, of tussen of in die letters, wat Jesus vir elkeen beteken.