Paulus skryf aan die Romeine om die eenheid van alle gelowiges te beklemtoon, gebaseer op die krag van God, deur die geloof in Jesus Christus en die lewe deur die Gees. God spreek mense vry: “enkel en alleen omdat hulle glo” (Rom 1:17) en nie omdat hulle die wet nakom nie – ’n boodskap wat regdeur die eeue gelowiges aangegryp het: die wonder van God se genade aan sondaars.
Die Gees, dan, maak ons een met Jesus en die Vader, soos hulle ook een is:
- Die Gees rig ons af om reg te lewe, om aandag aan die regte dinge te gee.
- Die Gees verseker ons dat ons kinders in die huishouding van God is, sodat ons as kinders van God kan lewe.
- Die Gees verbind ons aan ons erfenis in Christus: die belewenis van die volheid van wat God aan ons gee.
Daarom staan ons nie beheer oor ons lewe af aan ‘n sondige beheersentrum nie. Hierdie werk van God word nie ’n werklikheid vir ons sonder dat ons moeite daaraan moet doen nie, maar deur die Gees het ons die krag om ’n einde te maak aan ons sondige lewe en om toenemend meer te lewe soos Jesus.
Vertel:
- Vertel vir mekaar van verskillende situasies waar die term “under new management” gebruik kan word. Hoe sal jou lewe/werk/skool wees as dit onder nuwe bestuur kom?
Luister: Romeine 8:9-16
Ek glo in die Heilige Gees
9Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. 10Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. 11Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
12Daarom dan, broers, staan ons onder ‘n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. 13As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. 14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.
Dink:
- Baie mense in Rome was slawe of het slawe gehad. Slawe was besittings soos ’n perd of bees of tafel of ’n stoel. Wat beteken dit om ‘n kind van God te wees, teenoor ‘n slaaf?
- Watter voordeel is dit vir ons dat God se Gees binne ons woon?
- Wat behels die “lewe” waarvan ons lees in die teks alles?
Doen:
- Stel al die radio’s in julle woning of motor om nie heeltemal op die stasie te wees nie sodat daar ‘n gesuis in die agtergrond is, of selfs 2 stasies gemeng. Hoe help dit jou om die teksgedeelte te verstaan?
Bid:
Sit gemaklik, haal ‘n paar keer diep asem, en lees dan die volgende gebed:
O Heilige Gees van God,
Kom na ons en beweeg tussen ons:
Kom as wind en reinig ons;
Kom as vuur en suiwer ons;
Kom as dou en verfris ons:
Oortuig en bekeer ons en wy ons hart en lewe aan U
Vir ons eie welsyn en tot u verheerliking.
Ons vra dit in Jesus se Naam.
Eric Milner White (1884-1964) in 2001. Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Lux Verbi.BM.
Tiener fokus:
- Jy kan die beeld uit Ratatouille gebruik. Linguini moes leer om heeltemal oor te gee en te volg waar Remy hom lei, anders sou hy nooit sulke lekker kos kon maak nie! Kyk na die video en stel vir jouself ‘n uitdaging om God deur sy Gees toe te laat om jou te lei. http://www.youtube.com/watch?v=Kfe2WlV1VKY
Familie fokus:
- Gesels oor families en wat dit beteken om ’n lid van God se familie te wees. Gesels eerstens oor wat dit beteken om ’n lid van ’n familie te wees. Families kyk na mekaar. Hulle woon in dieselfde huis. Sommige families bedryf saam ’n besigheid, maak saam tuin, ens. Hulle hou saam vakansie en vier feesdae saam. Selfs tydens die slegte tye kyk families steeds na mekaar. Dit is ook waar vir God se familie. Ons is deel van God se familie, vir altyd, maak nie saak wát nie.