You are currently viewing 3. Hoe lees ons die Bybel?

3. Hoe lees ons die Bybel?

  • Post author:
  • Post category:Bybel

Die Bybel is ‘n versameling van geskrifte wat in verskillende genres geskryf is. Die Psalms is byvoorbeeld poësie, terwyl die Evangelies verhale is. Die verskillende boeke van die Bybel is ook dikwels samestellings van verskillende mondelingse verhale wat oor tyd oorgelewer is. Die verhale van die Bybel was nie van die begin af vanaf Genesis tot Openbaring geskryf nie, maar was eers later in hierdie volgorde gerangskik. Die verloop van geskiedenis, tyd sowel as die opennbaring van God (soos die koms van Jesus en die Gees) het ‘n impak op die storielyn van die Bybel en daarom is die Bybel juis in hierdie spesifieke volgorde gesit. Die Gees help ons om die Bybel (wat baie jare terug geskryf is) te lees, te verstaan en die waarhede daarin in vandag se tyd en konteks toe te pas.


Delf Dieper: Hoe lees ons die Bybel?

— Prof L. Juliana Claassens

Lees meer:


Luister: Lukas 2: 41-52

Die Kind Jesus by die tempel

41Jesus se ouers het elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe gegaan. 42Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle weer soos gebruiklik daarheen gegaan vir die fees. 43En toe die feesdae verby was, het sy ouers die terugreis begin, maar die Kind Jesus het in Jerusalem gebly sonder dat hulle dit geweet het. 44Omdat hulle gedink het Hy is by die reisgeselskap, het hulle ‘n dag lank gereis voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het.

45Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle omgedraai na Jerusalem toe op soek na Hom. 46Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra. 47Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde. 48Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.” 49Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”

50Hulle het nie begryp wat Hy daarmee bedoel het nie. 51Hy het toe saam met hulle na Nasaret toe teruggegaan, en Hy was aan hulle onderdanig. Sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar. 52En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.

Kyk:

  • Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
  • Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
  • Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?

Dink:

  • Wat verras jou in die verhaal?
  • Omkring die aksie woorde in verse 46- 50. Watter leidrade gee dit vir jou oor die manier waarop jy die Bybel kan benader?
  • In die tempel sou hulle die geskrifte gelees het, na geleerdes geluister het, besprekings gehou het en mekaar vrae gevra het. Watter rol speel ander mense in jou lewe om die Bybel te lees?
  • Jesus se ouers het nie alles verstaan nie. Hoekom is dit nie moontlik om alles in die Bybel te verstaan nie?
  • Die verhaal begin en eindig met ‘n reis. Hoe is reis ook ‘n goeie metafoor vir Bybel-lees?

Doen:

  • Raak deel van ‘n groep of vra ‘n vriend om saam met jou te reis deur ‘n Bybelboek.

Bid:

  • Here, hieroor worstel ek…

Tiener fokus:

  • Werk saam met iemand en kyk of julle die hoof gebeure van die storie van die Bybel in een bladsy kan beskryf. Kyk nou na jou Bybel se inhoudsopgawe. Kan jy een woord langs elke Bybelboek skryf oor wat die hoof gebeurtenis of tema in daardie boek is?
  • Kyk na ‘n komedie fliek of TV program asof dit ‘n tragiese drama is. Jy mag nie lag nie! Gesels met iemand oor hoekom genres belangrik is as ons die Bybel lees. 

Familie fokus:

  • Beeld die boeke van die Bybel met gekleurde blokkies, koppies of roomys stokkies uit. Jy sal goeie idees en speletjies kry as jy “bible books” op pinterest.com soek.