You are currently viewing 6. Ek glo aan die opstanding van die vlees en die ewige lewe

6. Ek glo aan die opstanding van die vlees en die ewige lewe

Ons ken die hashtags #YOLO (You Only Live Once) en #FOMO (Fear Of Missing Out). Daarmee sê ons dat daar net een lewe is en dat ons soveel as moontlik moet regkry en doen in hierdie een lewe. Volgelinge van Jesus glo egter aan ’n ewige lewe. ’n Die ewige lewe is ’n moeilike idee vir ons. Die manier hoe ons oor tyd dink, maak dat ons aan die lewe dink wat die vorm van ’n lyn aanneem. Die lyn het ’n beginpunt en ’n eindpunt. Ons kan nie ’n lewe verstaan wat nooit ’n einde het nie. ’n Lewe sonder einde maak dat ons nie met #FOMO hoef te lewe nie, want daar sal nog ’n kans wees om saam met spesiale mense spesiale geleenthede te hê. Ons hoef ook nie #YOLO te gebruik en ongeduldig soveel as moontlik ervaringe in hierdie leeftyd in te druk nie, want ons leef vir ewig saam met Jesus.

Vertel:

  • Het jy ’n “bucket list” van goed wat jy wil doen voor jy doodgaan? Wat is als op jou “bucket list”?

Luister: Johannes 5:19b-29 

Opstanding van die dooies

“Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so. 20Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy doen; en Hy sal Hom nog groter dade as hierdie wys, sodat julle verbaas sal staan. 21Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil. 22Self veroordeel die Vader niemand nie, maar die oordeel het Hy geheel en al aan die Seun oorgelaat. 23Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie.

24“Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan. 25Ek verseker julle: Daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe. 26Soos die Vader die lewe in Homself het, het Hy die lewe ook aan die Seun gegee om dit in Homself te hê. 27Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. 28Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom ‘n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor 29en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.”

Dink:

  • Hoe laat Jesus se woorde jou voel? “28Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom ‘n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor 29en sal uitgaan…”
  • Wie is dood wat jy graag weer sal wil sien? Hoe laat die gedagte dat jy weer daardie mens(e) eendag sal sien jou voel?
  • Wat is die “vereistes” wat Jesus hiervoor gee?

Doen:

  • Wat sal jy graag saam met die mense in die lysie hierbo wil doen? Wat sal jy vir hulle wil sê? Skryf solank die notas van alles wat jy graag vir hulle wil sê wanneer jy hulle weer sal sien.

Bid:

  • Om vooruit te kyk na die ewige lewe is een van die onderdele van hoop. Vra vir die Here om jou te help om te glo in die ewige lewe.

Tiener fokus:

  • Die martelaars (mense wat vir hul geloof in Jesus doodgegaan het) van die vroeë kerk het met vrymoedigheid doodgegaan vir hul geloof, omdat hulle geglo het in die opstanding en die ewige lewe. Soek op die internet vir ’n paar voorbeelde van sulke stories. Op watter manier versterk hulle stories jou eie geloof in Jesus?

Familie fokus:

  • Haal ’n paar foto’s uit van familielede wat al oorlede is. Vertel vir mekaar wat van hulle beste eienskappe was, waarna julle uitsien om weer te ervaar.