Die derde afdeling van die Apostoliese Geloofsbelydenis begin met die woorde: “ek glo in die Heilige Gees”. Met alles wat hierop volg, sê ons dat die Heilige Gees binne ons woon en werk. Dit is die Heilige Gees van God wat die kerk vorm en bou, in wie die gemeenskap van die heiliges plaasvind, deur wie ons sonde vergewe word, wat nuwe lewe wek en wat God se werk voltooi.
Omdat die Heilige Gees in ons woon, kry ons as mense weer ‘n besondere sterk plek in God se werk van verlossing. In die Gees het ons deel aan al die goeie dinge van God. Jesus Christus maak vir altyd vrede tussen ons en God. Die Heilige Gees maak ons een met Jesus en die Vader en maak die hele tyd nuut – dit is die proses van heiliging. Die Gees werk ook nie net binne-in ons nie, maar ook deur ons.
Vertel:
- Vertel van ‘n keer wat iets “toevallig” gebeur het, maar jy tot die besef gekom het dat dit die Heilige Gees was wat dit laat gebeur het.
Luister: Lukas 1:35-38; 2:25-32
Ek glo Jesus is ontvang van die Heilige Gees
“Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36Kyk, ‘n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook ‘n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. 37Niks is vir God onmoontlik nie.”
38Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”
Toe het die engel van haar af weggegaan.
25Daar het destyds ‘n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon 26en het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. 27Deur die Gees gelei, het hy opgegaan na die tempel toe. Toe die ouers die Kindjie Jesus bring om vir Hom die gebruiklike bepaling van die wet na te kom, 28het Simeon Hom in sy arms geneem en God geprys en gesê:
29“Here, laat u dienaar nou
in vrede gaan volgens u woord,
30omdat my oë u verlossing gesien het
31wat U gereed gemaak het
voor die oë van al die volke:
32‘n lig tot verligting van die nasies
en tot eer van u volk Israel.”
Dink:
- Wat is die rol wat gehoorsaamheid gespeel het in Maria se lewe en Simeon s’n?
- Wat sien ons in die teksgedeelte oor die verhouding tussen Jesus en die Heilige Gees?
- Wat sien ons van die Heilige Gees se krag?
Doen:
- Maak dit ‘n doelwit om daagliks 10 minute te neem en alles wat die dag gebeur het, te deurdink. Hoe was die Heilige Gees betrokke daarby? Reageer deur dankie te sê, jammer te sê/ te vergewe of te vra vir krag wat nodig is om iets te verander.
Bid:
- Bid bewustelik nie net teenoor God of Jesus nie, maar bid ook spesifiek dat die Heilige Gees jou sal vorm, lei en verander
Tiener fokus:
- Maak ‘n lys van verskillende maniere waarop jy die werking van die Heilige Gees vir iemand anders kan verduidelik
Familie fokus:
- Gebruik die volgende hulpmiddel om te gesels oor die Heilige Gees. Geleen by KIX op Communitas se webwerf:
HULPMIDDELS:
- 3 Ballonne,
- ’n hanger,
- 2 toutjies en ’n skêrtjie om die toutjie mee los te knip.
INLEIDING: Blaas 2 van die ballonne op en bind elk met ’n toutjie. Bind dit aan ’n hanger vas en hang dit op ’n veilige en sigbare plek.
GESELS:
- Waarvoor gebruik ons ballonne?
- Wat is die verskil tussen die opgeblaasde een en die pap een? Watter een vervul sy funksie?
- Wat is nodig sodat die ballon sy funksie kan verrig?
- Hoe help dit ons om oor die Heilige Gees in ons lewens te dink?
http://communitas.co.za/Dokumente/KIX_pdfs/Kerkjaar/pinksterles_ballon_blokraaisel.pdf