Tydens Jesus se lewe op aarde het hy oomblikke van intense hartseer en lyding ervaar. Hy het die verlies daarvan geken om ‘n geliefde vriend aan die dood af te staan; die verwerping gevoel van mense in sy tuisdorp en familiekring wat niks van Hom wou weet nie; die verraad en vertrouensbreuk van nabye vriende deurgegaan en die teleurstelling oor mense wat hom gevolg het, maar keer op keer sy boodskap misverstaan het – om enkele voorbeelde te noem. Die hoogtepunt van Jesus se lyding was natuurlik sy kruisdood – nie net die fisiese lyding daarvan nie, hoewel dit gruwelik erg was, maar ook die sonde en lyding van die mensdom wat Hy in daardie oomblik moes dra. Ons dink veral na oor die lyding wat Jesus deurgegaan het in Lydenstyd, die 50 dae voor Paasfees elke jaar.
Dat Jesus gely het, juis ter wille van die skepping en die mensdom, gee vir ons rede om diep dankbaar. Al wat ons in reaksie daarop kan doen is om vanuit daardie dankbaarheid te leef.
Jesus se aardse lyding beteken ook dat Hy ons lyding ken en verstaan, en kan daarom ook vir ons tot troos wees in ons eie oomblikke van seer en swaarkry.
Vertel:
- Vertel ‘n verhaal (dit kan net ‘n sin of twee ook wees) van ‘n keer wat jy hartseer was of oor iets wat vir jou swaar was. Eindig elke keer die verhaal met die woorde: En God was daar. Gee vir elkeen in die gesin/groep ‘n kans.
Luister: Jesaja 53
Die Lydende Dienskneg
1 Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?
Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
2 Die dienaar was soos ‘n loot wat voor die Here uitspruit,
soos ‘n plant wat wortel skiet in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.
3 Hy was verag en deur die mense verstoot,
‘n man van lyding wat pyn geken het,
iemand vir wie die mense die gesig wegdraai.
Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.
4 Tog het hy óns lyding op hom geneem,
óns siektes het hy gedra.
Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan en gepynig word.
5 Oor óns oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom,
deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.
6 Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.
7 Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word
en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
8 Terwyl hy gely het en gestraf is,
is hy weggeneem,
en wie van sy mense het dit ter harte geneem
dat hy afgesny is uit die land van die lewendes?
Hy is gestraf oor die sonde van my volk.
9 Hy het ‘n graf gekry by goddeloses,
hy was by sondaars in sy dood
al het hy geen misdaad gepleeg nie
en al was hy nooit vals nie.
10 Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel,
om hom die pyn te laat ly.
As hy sy lewe as skuldoffer gee,
sal hy ‘n nageslag hê en nog lank lewe,
deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik.
11 Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien
en hy sal die Here ken.
My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak:
hy sal die straf vir hulle sonde dra.
12 Daarom gee Ek hom ‘n ereplek onder die grotes.
Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier
omdat hy hom in die dood oorgegee het
en as misdadiger beskou is,
omdat hy die sondes van baie op hom geneem het
en vir oortreders gebid het.
Dink:
- Hierdie teks is oorspronklik geskryf oor iemand anders, maar dit word dikwels in die Nuwe Testament en in die Kerktradisie gebruik om Jesus se lyding op aarde te beskryf. Hoe laat dit jou voel om te weet dat Jesus so gely het en soveel swaarkry ervaar het?
- Hoe laat die teks jou voel? Watter emosies roep dit by jou op?
- Ek wonder hoe hierdie teks en Jesus se lyding ons kan help om te dink oor ons eie swaarkry en die swaarkry van ander in die wêreld?
- Hoe laat dit jou voel om te dink God is by ons in ons oomblikke van lyding?
Doen:
- Jesus het “die straf van ons sondes gedra” (v.11) en daarom is ons ten volle vergewe. Is daar enige sondes wat jy wil bely – d.w.s. maniere van doen/leef wat nie in lyn is met wat Jesus ons leer nie?
- Skryf dit met jou vingers iewers waar jy dit totaal kan uitvee en daar geen teken daarvan sal oorbly nie – soos bv. in sand of gooi bietjie meel iewers uit. Wanneer jy dit uitvee kan jy vir God dankie sê dat jy vergewe is en dat jy uit dankbaarheid gaan probeer leef soos Jesus ons kom leer het.
Bid:
- Dink oor die volgende punte (julle kan selfs ‘n lys maak) en bid dan daaroor:
- Wat wil ek vir Jesus sê oor die lyding wat Hy ervaar het?
- Wat wil ek vir God sê oor die feit dat my skuld en sonde afgeskryf is?
- Is daar enige lyding in my eie lewe wat ek na God toe wil bring?
- Wie ken ek wat lyding deurgaan op die oomblik vir wie ek kan bid?
Tiener fokus:
- Hoe kan ons mense/vriende bystaan wat lyding ervaar?
Brené Brown se gedagtes oor empatie kan ons dalk hiermee help: https://www.youtube.com/watch?v=1Evwgu369Jw
Familie fokus:
- Blaai saam deur die koerant of onlangse nuusberigte en merk watter daarvan verhale van lyding bevat. Julle kan dit selfs uitknip en opplak iewers, dit op die tafel uitpak of ‘n lys daarvan maak.
- Gesels saam oor vrae wat opduik in die lig van die berigte en bid saam vir daardie sake/mense.