Wanneer ons die Bybel lees moet ons onthou dat dit baie lank terug geskryf is deur verskeie skrywers in ‘n antieke kultuur. Die Bybel is ‘n versameling stories, legendes, gedigte, liedere, geskiedkundige verhale en nog baie meer wat oor ‘n lang tydperk oorvertel en versamel is. Die antieke kultuur van daardie tyd is deel van die storie en God het in daardie tyd binne in hulle pre-moderne verstaan van die wêreld hulle ontmoet. Hulle ervaring van God en verstaan van hulle geloofstorie is dus deur hulle kultuur en hulle eie geskiedenis beïnvloed. Om die boodskap van die Bybel te ontdek, is dit dus belangrik om die konteks van daardie tyd in ag te neem. Binne in hierdie spesifieke konteks van elke verhaal is daar sleutels wat ons kan gebruik om die teks beter te kan verstaan in vandag se konteks.
Delf Dieper: Konteks
— Ian Nell
Lees meer:
Luister: Josua 6:1-21
Die inname van Jerigo
1 Jerigo was gesluit en verskans teen die Israeliete; niemand het uitgegaan of ingekom nie. 2Die Here het vir Josua gesê: “Ek gaan Jerigo, sy koning en sy soldate nou in jou mag oorgee. 3Julle moet om die stad loop; al die manne onder wapen moet een maal om die stad gaan, en dit moet julle ses dae lank doen. 4Sewe priesters moet elkeen ‘n ramshoring voor die ark uit dra.
“Die sewende dag moet julle sewe maal om die stad loop. Dan moet die priesters die ramshorings blaas, 5en sodra die ramshorings blaas en julle dit hoor, moet al die manskappe die aanvalskreet hard uitskreeu. Die muur van die stad sal dan inmekaar stort en die manskappe kan oorklim, elkeen reguit vorentoe.”
6Josua seun van Nun het die priesters geroep en vir hulle gesê: “Vat die verbondsark en laat sewe priesters elkeen ‘n ramshoring voor die ark van die Here uit dra.” 7Vir die manskappe het hy gesê: “Kom verby en loop om die stad. Die gewapende manne moet verbygaan voor die ark van die Here uit.”
8Josua was nog besig om met die manskappe te praat, toe kom die sewe priesters wat elkeen ‘n ramshoring voor die ark van die Here uit moes dra, verby en blaas die ramshorings terwyl die verbondsark van die Here agter hulle aan kom. 9Die gewapende manne het voor die priesters geloop wat die ramshorings blaas, en die agterhoede het die ark gevolg. Terwyl hulle loop, het die ramshorings geblaas.
10Josua het die manskappe beveel: “Julle moenie skreeu of ‘n geluid laat hoor nie; nie ‘n woord moet uit julle mond kom voor die dag dat ek vir julle sê: ‘Skreeu!’ nie, dan moet julle skreeu.” 11Josua het die ark van die Here toe om die stad laat gaan. Toe dit een maal om was, het hulle na die kamp toe teruggegaan en die nag in die kamp deurgebring. 12Die volgende môre het Josua vroeg begin. Die priesters het die ark van die Here gedra. 13Die sewe priesters wat elkeen ‘n ramshoring voor die ark van die Here uit moes dra, het die ramshorings geblaas terwyl hulle loop; die gewapende manne het voor hulle geloop, en die agterhoede het die ark van die Here gevolg. Terwyl hulle loop, het die ramshorings geblaas. 14Hulle het die tweede dag een maal om die stad geloop en het toe teruggegaan kamp toe. Dit het hulle ses dae gedoen.
15Die sewende dag het hulle vroeg, toe die rooidag breek, begin. Hulle het sewe maal om die stad gegaan, in dieselfde volgorde as tevore. Daardie dag het hulle dus sewe maal om die stad gegaan. 16Na die sewende maal het die priesters die ramshorings geblaas. Josua het vir die manskappe gesê: “Skreeu! Die Here gee die stad aan julle oor! 17Dit moet heeltemal uitgedelg word as banoffer vir die Here: die stad en al wat daarin is, behoort aan die Here. Net die prostituut Ragab mag lewe, sy en almal by haar in die huis, want sy het die verkenners wat deur ons uitgestuur is, weggesteek. 18 Maar weerhou julle van wat aan die Here behoort. Moet niks vat van wat aan Hom behoort en vernietig moet word nie, anders maak julle dat die kamp van Israel self vernietig moet word en bring julle die dood daaroor. 19Die silwer en goud en die brons- en ystergoed in die stad is alles aan die Here gewy. Dit moet in die skatkis van die Here kom.” 20Toe skreeu die manskappe en die ramshorings blaas. Net toe die manskappe die ramshorings hoor, het hulle die aanvalskreet hard uitgeskreeu. Toe stort die mure inmekaar en die manskappe gaan oor, die stad in. Hulle het die stad ingeneem 21en al wat daarin is, uitgedelg, man en vrou, jonk en oud, selfs die beeste, die skape en die donkies.
Kyk:
- Wat sien jy raak in die prent bo-aan hierdie gedeelte?
- Hoe help dit jou om oor die tema te dink?
- Aan watter ander beelde of metafore kan jy dink om hierdie tema of teks uit te beeld?
Dink:
- Wat val jou op as jy die verhaal hoor?
- Blaai terug deur jou Bybel, plot wanneer hierdie verhaal in Israel se geskiedenis plaasgevind het?
- Wat is ‘n ramshoring, die ark, priesters, die skatkis van die Here en die simboliek van die getal 7?
- Hoe dink ons vandag anders oor ander volke, oorlog, grondbesit, die waarde van mense (en diere) se lewens, verwoesting, plundertogte en God se wil?
- Het God verander van daardie tyd tot nou?
- Hoe dink jy moet ‘n mens hierdie verhaal lees in die lig van Jesus se koms en die evangelie?
- In die lig van die konteks wat verander het, is daar ‘n waarheid wat jy steeds uit die verhaal kan haal?
Doen:
- Google die geskiedenis van die stad Jerigo, en kyk na prente en kaarte daarvan.
Bid:
- Hoe beïnvloed nasionalisme en ons huidige land se konteks jou eie denke oor God en die wêreld? Doen biddend selfondersoek na jou eie gesindheid oor ander volke en jou moontlike vooropgestelde idees oor Sy betrokkenheid in geskiedenis.
Tiener fokus:
- Hou ‘n Bybelse ete waar jul die kos en tradisies van die Ou Testament gebruik.
Familie fokus:
- Kyk op die internet hoe musiekinstrumente in die Bybel gelyk het. Maak jul eie musiek instrumente en sing ‘n paar lofliedere saam.